‘n Bloudruk is ‘n vaste vorm, ‘n voorafgetekende plan,
waarvolgens alle modelle wat hierop gebasseer word,
gebou moet word.
Baie mense wil God se wil as ‘n bloudruk sien.
Hulle sê: “Daar is ‘n doel met alles.”
“Wat moet gebeur, sal gebeur.”
Hulle glo God bepaal elke klein stukkie detail in die lewe.
Selfs tot by hul motor se parkeerplek voor die winkels.
So word God se wil inderdaad soos ‘n wipplank.
Dan is jy binne sy wil, en dan is jy weer buite sy wil.
Hiervolgens het God ‘n geïndividualiseerde wil,
‘n hoogs gedetailleerde wil,
vir elkeen spesifiek op aarde.
In so ‘n bloudruk verstaan van God se wil,
verander God se rol spoedig na die van ‘n hemelse Konsultant,
wat net in spesiale tye die regte antwoorde moet bied as jy by Hom aanklop.
Die persoonlike verhouding van wedersydse liefde tussen God en ons gaan so verlore.
God se wil is sy plan vir die koms van sy koninkryk!
Dit word duidelik in die Skrif geopenbaar.
Hier is van die tekste wat dit uiteensit:
Hebreërs 10:7-10:
Jesus vervang die ou bedeling van die wet en offers.
Hy kom offer sy lewe vir ons, volgens God se wil.
Romeine 12:1-2:
God se wil is eenvoudig dat ons nou ook onsself as
lewende en heilige offers aan Hom gee.
Ons dink nuut en leef nuut,
sodat ons ook kreatief en vernuwend sy wil kan beleef!
2 Kor.8:5:
God wil hê dat ons onsself as lewende werktuie tot sy beskikking stel,
en tot mekaar se beskikking stel, om te dien!
Dit sluit in alles wat ons is, en alles wat ons het.
1 Tess. 5:18:
God wil ook dat ons in alle omstandighede dankbaar en blymoedig sal lewe.
Ernest