Wanneer jy in terme van ‘n bloudruk dink oor God se wil,
dan gaan dit grootliks oor die vind van die regte antwoorde
wanneer besluite geneem moet word.
Dan het ons ‘n soek-en-vind mentaliteit.
Dan wil ons nie self verantwoordelikheid vir ons lewe neem nie.
God se wil gaan egter oor sý koninkryk.
Hoe val ek in by die koms van sý koninkryk?
God se wil gaan ook oor die vorming van my karakter.
Hy wil my karakter vorm na sý beeld.
Dit sal dikwels tot my ongerief lei,
dat Hy my uit my gemaksones uithaal!
Dit gaan nie soseer oor antwoorde op al my vrae nie.
Dit gaan daaroor dat ek heilig vir Hom lewe.
Dit is vir God minder belangrik wáár ek werk, as hóé ek daar werk.
Dit is minder belangrik waar ek bly, as hóé ek daar bly, en tot sy eer daar leef.
Dit is minder belangrik watse motor ek ry,
as hóé ek bestuur en optree teenoor medebestuurders.
God se wil gaan oor my lewenswyse, op my lewenspad voor Hom.
Miga 6:8-9:
“Mens, die Here het jou bekendgemaak wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
Om die Here te dien, dit is wysheid.”
God se wil gaan daaroor dat ek binne ‘n nuwe verhouding met Hom lewe.
Dit sal eenvoudig deurwerk na alle dinge in my lewe,
omdat ek op God gefokus is,
en nie op ‘n plan vir mý lewe nie.
God se wil lê in ‘n verhouding,
wat uitdrukking vind in dinamiese besluite,
wat sý koninkryk deurlopend eerste stel!
Ernest