Psalm 39:8 vra ‘n baie belangrike vraag, en gee die antwoord!
“Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste Hoop!”

Hoop is nie die oortuiging dat dinge alles goed sal uitdraai nie.
Hoop is die sekerheid dat dit sin sal maak, ongeag hoé dit uitdraai.
Dit kan jy net sê en wéét as Christus jou hoop is.

Iemand vertel van ouers wat ‘n dogtertjie grootgemaak het,
wat sonder arms en bene gebore is.
Hulle het nooit ooit met haar hoop opgegee nie.
Sy het in ‘n wonderlike meisie ontwikkel,
as gevolg van haar ouers se toewyding aan haar.
Sy het ‘n egte geloof gehad en mense rondom haar diep geraak.
Haar broer se universiteitsvriend het eendag vir haar gevra:
“Wat keer dat jy nooit in woede teen God uitgebars het nie,
as gevolg van jou omstandighede?”
Sy het geantwoord dat sy baie dinge nie het nie,
wat ander as vanselfsprekend aanvaar.
Maar sy sou nooit die kans wou mis wat sy gegun is,
om gebore te word nie!
Sy kan proe, lees, musiek luister, en bo alles liefde ervaar!

Hoop is nie die oortuiging dat alles net vir jou goed sal wees nie.
Dit is die sekerheid dat dit sal sin maak,
omdat jy meer daarin ontdek,
as wat jy ooit sou kon dink dit vir jou kan inhou of beteken!

Bely en leef saam met Psalm 39:8:
“Is daar nog hoop vir my , Here?
U is my enigste hoop!”

Ernest