Paulus skryf in 1 Kor.4:14-16:
“Ek skryf nie oor hierdie dinge,
op hierdie trant, om julle sleg te laat voel nie.
Ek doen dit eerder om julle reg te help,
want ek het julle lief soos iemand sy eie kinders liefhet.
Onthou dit, julle kan duisende mense hê
wat vir julle baie dinge oor Christus leer,
maar julle kan net een geestelike vader hê.
Ek is julle geestelike vader.
Ek het julle geestelike vader geword toe julle vir die
eerste maal by my die wonderlike boodskap
oor Jesus Christus gehoor het.
Daarom vra ek julle baie mooi
om te maak soos ek maak.
Neem die voorbeeld wat ek stel ernstig op.”

Paulus skryf alles wat hy vir die Christene in Korinthe skryf
in die gesindheid van ‘n pa wat vir sy kinders omgee.
Paulus is vir hulle soos ‘n mentor wie se voorbeeld hulle kan navolg.
Almal van ons het sulke mentors nodig.
“Geestelike pa’s/ ma’s”.

Dink na oor die mense wat hierdie rol in jou lewe speel,
of dit gespeel het.
Mentors, rolmodelle wat ‘n sterk positiewe invloed op jou lewe het.
Jou ouers dalk, of grootouers, of ‘n goeie vriend of vriendin,
broer, of suster, of onderwyser…
Dank die Here vir hulle.
Kontak hulle en sê dankie vir wat hulle vir jou beteken.

Daar is ook mense wat jy nooit ontmoet het nie.
Regtig groot name, soos skrywers, Bybelfigure…
Dank die Here dat Hy ook deur hulle jou lewe aangeraak het.

Gaan sit en dink ook nou vir wie jy ‘n mentor is.
Vir jou kind, of vriend, of vriendin, of kollega,….
Dink dan ook hoe jý voor en vir hierdie mense as mentor optree.
Leef onder leiding van die Heilige Gees,
sodat jy ook soos Paulus in vers 16 kan sê:
“Daarom vra ek julle baie mooi om te maak soos ek maak.
Neem die voorbeeld wat ek stel ernstig op.”

Ernest