Die Boodskap vertaling sê in Romeine 5:3-5:
“Al kry ons nou baie swaar, vat dit gladnie ons blydskap weg nie.
Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp,
om nog meer op God te vertrou.
En wanneer ons onverskrokke op God vertrou,
help dit ons om ‘n sterk Christelike karakter te vorm.
En ‘n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo,
dat God se nuwe wêreld op ons wag.
Wanneer ons al ons hoop op God stel,
sal ons nooit teleurgesteld wees nie.
Want Hy vul ons elke dag met sy liefde.
Dit doen hy deur die Heilige Gees wat by ons bly.”

Wil jy dit nie weér nadenkend lees nie!

Swaarkry neem nie ons hoop en blydskap weg nie!
‘n Bekende Ierse besigheidsman, Charles Handy, het twee fotos op sy lessenaar.
Die eerste is net die gesig van ‘n seuntjie wat lag.
Sy oë straal van blydskap en hoop.
Dit is ‘n baie inspirerende foto.
Die tweede foto is nog meer inspirerend.
Dit wys dieselfde seuntjie in vollengte.
Jy sien die plakkershuisie agter hom.
Jy sien sy karige ou klere, en kaal voete.
Jy sien sy haglike omstandighede.

Hierin lê ons uitdaging!
Ons moet daarin slaag om ons blydskap en hoop los te maak
van die kettings van ons omstandighede.
Ons moet regtig vashou aan die teks hierbo.
Vers 3: “Al kry ons nou baie swaar, vat dit gladnie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe.”
Vers 5: “Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie.”

Emily Dickinson het gesê: “Hope is the thing with feathers.”
Dit laat jou vlieg wanneer daar geen grond is om op te staan nie!
Ons lag dikwels vir die Red Bull advertensies: “Red Bull gives you wings.”
Dit is maar eintlik leeg…
Ware Bybelse hoop gee jou vlerke!
Vers 5 sê wanneer jy al jou hoop op God stel,
sal jy nooit teleurgesteld wees nie!
Hoop gee jou vlerke!

Ernest