Job was nie ‘n groot held nie.
Op ‘n dag het sy lewe ook inmekaar gestort.
Sy aardse rykdom, kinders en sy gesondheid was tot niet.
Job 1-2 vertel hoe dit uitgewis is.
Ook hy het na ‘n tyd in woede uitgebars en sy geboortedag vervloek.

En dan kom sy drie vriende op die toneel.
Elifas, Bildad, en Sofar.
Maar dit help nie veel nie.
Pleks dat hulle hom troos, word hulle “advokate”.
Hulle het die slimste verklarings in plek vir Job se ellende.

Elifas is die eerste vriend wat toetree.
Hy is oortuig dat Job ‘n klomp geheime sondes versteek.
Dit is hoekom God hom nou terugkry.
Vir die sondes van die verlede.
Job 4:7 is nie God se kant van die saak nie!
Daar sê Elifas:
“Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig ten gronde gegaan?
Waar is regverdiges ooit uitgewis?”
Job moet oor iets skuldig wees…
Dit is Elifas se godsdienstige interpretasie.

Job se antwoord op Elifas se aanklag is aangrypend.
Hy sê in Job 6 verse 5-10 hy is uitgelewer aan God!
Hy sê in vers 14 Elifas beskou medelye met hom as ‘n las.
So het Elifas nie eerbied vir die Allerhoogste nie.
Job meen sy vriende is onbetroubaar…soos ‘n droë spruit, vers 15.

Dit laat mens weer mooi dink.
Moenie oorhaastige antwoorde aan jou vriende in krisis en lyding gee nie.
Moenie pasklaar verklarings uitryg nie.
God stel ons nie aan om sulke verklarings te gee nie.
Ons moet mooi dink.
Is iets regtig sommer net “God se wil”?

Wees ‘n nie-veroordelende vriend!
Wees net daar vir jou vriende in nood.
Dit is oorgenoeg dat jy omgee en beskikbaar is!

Ernest