Galasiërs 5:6:
“Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”

Moeder Teresa het gesê dit is nie wat jy doen wat saak maak nie,
maar hoeveel liefde jy daarin sit.

Liefde is nie ‘n goeie doel in die lewe nie.
Liefde is die belangrikste doel in die lewe.
Vir jou getuienis vir die Here in die wêreld, en vir jouself.
Jesus sê in Joh 13:35 vir sy dissipels:
“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is.”
Dit is nie maklik om lief te hê soos die Here van ons verwag nie.
Daarom leer ons by ons eie geloofsfamilie om mekaar lief te hê.

Sonder werklike liefde is die lewe waardeloos.
Al sou jy hoe begaafd wees, en selfs bereid wees om vir ander te sterf,
en jy het nie ware liefde nie, baat dit jou niks. 1 Kor. 13:3.
Jesus vat die hele wet in twee gebooie saam:
Liefde vir God en liefde vir jou medemens.
Liefde gaan dus om verhoudings waarin jy leef.
Daarom moet jy tyd maak vir God,
en jy moet tyd maak vir ander mense in jou lewe.
Jou oorvol program kan die grootste bedreiging vir liefde in jou lewe wees.
Iemand het gesê die beste manier om liefde te spel is: T-Y-D!
Moenie besiger wees as wat die Here jou wil hê nie!

God se maatstaf waaraan hy meet,
is of jou geloof oorgaan in dade van liefde!
Jy het nie tyd vir iets waarvoor jy nie tyd maak nie.
Belê jou tyd in die kosbaarste wat jy het.
Jou verhouding met God,
en jou verhouding met jou geliefdes,
en jou verhouding met alle mense!

Ernest