Waarom praat mense deesdae eerder sleg as goed van die kerk?
En hoekom neem gelowiges so maklik maar net negatief deel aan die gesprek?

Die kerk is verseker nie volmaak nie,
omdat die kerk geskep is vir, en bestaan uit, mense soos ons!
Dit is verbasend dat mense sê die kerk bestaan uit skynheiliges.
Want dit is juis vir sondaars dat die kerk daar is, “skynheiliges”!
Gewone mense met al hul tekortkominge en foute!
Dietrich Bonhoeffer het gesê die ontnugtering met die plaaslike kerk is goed,
want dit vernietig ons vals verwagtinge van volmaaktheid.

Lees nou mooi hier: Daar is vir God niks belangriker as sy kerk op aarde nie!
En dit ten spyte van hoe óns, die kerk, lyk!
God het die duurste prys vir die kerk betaal!
Hy het sy eie Seun as losprys gegee om die kerk syne te maak!
Die kerk behoort aan die Here!
En Jesus Christus is die Hoof van die kerk!
Hoe is dit dan moontlik dat selfs gelowiges die hart van die kerk
probeer uitruk deur dit wat hulle sê.

Die lede van die geloofsfamilie is nie almal eenders nie.
Verskillende agtergronde, en persoonlikhede, voorkeure en afkeure.
Ons deel egter saam in dieselfde verlossing in Christus!
Ons dien dieselfde Here.
Ons sien uit na dieselfde toekoms saam met Hom.
Dieselfde toekoms sáám!

Wees realisties oor jou verwagtinge van die kerk.
Daar is altyd, in hierdie wêreld,
die spanning tussen die ideale kerk en die werklike kerk.
As jy soms ontnugter is met die kerk,
dink ook hoe dikwels die Here “ontnugter” is met joú!
Ons sit maklik op die kantlyn en sê hoe die wedstryd gespeel moet word.
In die kerk is daar egter nie paviljoene nie! Almal is op die veld!

Bid vir die kerk, en beskerm die kerk,
as die liggaam van die Here Jesus Christus.
Romeine 14:9:
“Laat ons ons dan beywer vir die dinge
wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.”

Ernest