Verbind jou daartoe om geestelik te groei.
Kyk net hoe motiveer Fil. 2:13-14 ons om dit te doen:
“Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê
om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle
gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
Geestelike groei kom nie vanself nie.
Dit vra ‘n doelbewuste verbintenis om dit te doen.
Vra jouself af met watter, ten minste twee,
aktiwiteite jy besig is om geestelik te groei.
Baie Christene word oud sonder dat hulle
groei in geestelike volwassenheid.
As jy nie doelbewus kies om geestelik te groei nie,
sal jy ‘n geestelike baba bly!
God wil jou in staat stel om geestelik te groei.
Iemand wat groei in geestelike volwassenheid word al hoe minder,
sodat die Here al hoe meer word in hulle lewe.
Jy dink al hoe minder aan eie belange,
en al hoe meer aan die belange van ander.
Jy kyk ook nie meer deur ‘n wêreldse bril nie.
Jy leer om meer en meer na die wêreld te kyk
soos die Here na die wêreld kyk.
In die krag van en onder leiding van die Heilige Gees,
begin jy al hoe meer optree soos die Here sou optree.
Jy dink anders, voel anders, en tree anders op as die wêreld.
Jy begin die dinge te onderskei waarop dit regtig aankom,
en vra biddend na die wil van God,
en wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Rom. 12:2.
Geestelike volwassenheid is baie meer as net goeie insig.
Dit is gegrond in ‘n liefdesverhouding met die Here self.
Ernest