God is ‘n lewende God wat met die mens in verhouding tree deur die Woord.
Binne hierdie verhouding waarin God met die mens tree,
tree Hy ook in gesprek met die mens.
God praat deur die Woord en die Gees.
En wanneer God praat gebeur daar iets!
Reeds in Genesis 1:3 sê Hy:
“..Laat daar lig wees. En daar was lig.”
En ook aan die einde van die Woord sê Hy in Openbaring 22:17:
“Die Gees en die bruid sê: Kom!”.
Dink bietjie na oor Hebreërs 4:12:
“Die woord van God is lewend en kragtig.
Dit is skerper as enige swaard met twee snykante,
en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees,
en van gewrigte en murg.
Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”
Die Bybel is nie gegee om kennis uit te brei nie,
maar om mense te verander,
om mense in verhouding met God te plaas,
om God aan die mens te openbaar.
Om God se liefde en genade met die mens te deel.
Die Bybel as God se Woord is die betroubare getuienis van Wie God is,
en van wat Hy van die mens verwag in ‘n lewende verhouding.
Daarom het die Bybel gesag in ons lewe.
2 Tim.3:16 sê die Woord het groot waarde om;
die waarheid beter te leer ken,
dwaling en leuens te bestry,
verkeerde dinge reg te stel,
en die regte lewenswyse te kweek.
Die Bybel het meer gesag as jou kultuur wat sê “almal doen dit”.
En meer gesag as jou tradisie wat sê “ons het dit nog altyd so gedoen”.
En meer gesag as jou rede wat sê “ek glo net wat ek kan verklaar”.
En meer gesag as jou emosies wat sê “dit voel vir my reg”.
Deur die Woord kry ons God se wil en die helderheid wat Hy wil gee.
Daarom moet ons deur die Woord groei.
Om daarin te groei moet ons die Woord lees,
daarna luister, dit bestudeer, dit oordink,
dit uitleef en dit selfs memoriseer!
Ons kyk drie ure op ‘n dag televisie,
maar lees die Woord van die Here vir drie minute,
en oordink dit in ‘n paar minute…..
Die Woord van God hou ons binne hoorafstand van God.
Groei daarom deur die Woord in die waarheid!
Ernest