Dit klink na n’n snaakse vraag om te vra:
Watter beperkings plaas jy op Jesus?
Kan mens Jesus beperk?
Dit gebeur baie maklik in ons gedagtes,
veral wanneer ons Jesus al van kleins af ken.

Dit gebeur met Jesus wanneer Hy weer ‘n draai in Nasaret maak,
waar Hy grootgeword het.
Kyk wat gebeur daar in Nasaret in Matt. 13:57-58:
“Hulle was verontwaardig en wou niks van Hom weet nie.
Daarop het Jesus vir hulle gesê:
“’n Profeet word oral gerespekteer,
behalwe in sy tuisdorp en in sy eie familiekring.”
As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke gedoen.”

Die Engelse spreukwoord wat sê “familiarity breeds contempt”,
kan ook maklik geld vir my en jou wat Jesus van kleins af ken,
en as’t ware “saam met Hom grootgeword het”.
Die mense hier in Nasaret, voor wie Jesus grootgeword het,
sukkel om Hom ernstig op te neem.
Hulle is “te gewoond aan Hom”.
Hulle sien Hom steeds as die jongmens
wat daar tussen hulle rond was.
Hulle is vasgevang in hul vooroordeel belewenis
van wie Jesus nog altyd vir hulle was.

So is dit ook maklik met ons, wat Jesus “van kleins af ken”.
Hoe ernstig neem jy Jesus op?
Hoe klein of groot dink jy oor Jesus?
Hoe sien jy Hom raak in jou alledaagse lewe?

Dit is in hierdie opsig wat ons onwetend beperkings op Jesus stel!
Hoe kleiner ons oor Hom dink, hoe minder sien ons Hom raak.
Dit is ook wat in Nasaret gebeur het.
Omdat die mense nie oop was vir God se teenwoordigheid in Jesus nie,
het Jesus ook min wonderwerke daar gedoen!

Norm Story het gesê:
“Our walk with God will not grow beyond the limits set by our trust,
faith and obedience to the Lord….”

Beweeg uit jou beperkende denke oor Jesus!
Ontdek God se wye wêreld wat daar in Jesus vir jou wag!
Ontdek hoe groot die Here Jesus Christus is,
en dat Hy heers aan die regterhand van God!

Ernest