Soms boul die lewe ‘n bal na jou toe
wat regtig só moeilik is om raak te slaan.
In krieket praat hulle van ‘n “googly”.
In sagtebal praat hulle van ‘n “curve ball”.
Dit gooi jou geheel en al van balans af.
Een van die grootste “curve ball’s”
is die dood van ‘n geliefde.
Ons sien selfs die effek daarvan op Jesus,
met sy vriend Lasarus se dood.
En ook toe Hy hoor van Johannes die Doper se dood.
Matt. 14:10-13 vertel:
“Koning Herodus stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof….
Johannes se dissipels het sy liggaam kom haal en hom begrawe.
Daarna het hulle vir Jesus kom vertel wat gebeur het.
Toe Jesus dit hoor, het Hy in ‘n skuit daarvandaan weggegaan
na ‘n afgeleë plek om alleen te wees.”
Hierdie gedeelte help ons om ook so ‘n groot verlies te hanteer.
Johannes die Doper het koning Herodus se buite egtelike verhouding
met sy broer se vrou, Herodias, veroordeel.
Herodus het woedend vir Johannes in die tronk gegooi.
Op sy verjaarsdag het Herodias met ‘n slinkse plan vir
Herodus gedwing om Johannes te laat onthoof.
Johannes se volgelinge het hom begrawe en vir Jesus kom vertel.
Wanneer so ‘n “curve ball” van die lewe jou platslaan,
moenie daar bly lê nie.
Staan op en gaan na Jesus toe.
Vertel Hom álles….. van hoe jy voel.
Hy is lief vir jou.
Hy luister.
Hy wil jou help.
Hy gee regtig om.
Hy is óók lief vir jóú geliefde…
Hy kán regtig help want Hy het die dood oorwin.
Sy reaksie toe hy van Johannes hoor, wys hoeveel Hy regtig omgee.
Baie spesifiek ook vir jóú.
Ernest