Ons sou graag dinge in ons lewe wou reguleer,
soos die knoppie van die haardroër.
Nie te warm nie, nie te koud nie, net lekker gemaklike hitte.
Ons sal nie die hitte van beproewing kies nie.

Mens kan egter nie die situasies in die lewe so gemaklik verander
soos jy die temperatuur van die haardroër verander nie.

Op die geestelike terrein moet ons nie net gemaklik warm wees nie, maar heilig.
Om heilig te wees beteken dat ons soms deur vuur gelouter moet word.
Heiligmaking beteken om vir God afgesonder te word.
Om van alles wat onrein is geskei te word.
Die Here lei ons soms deur die vuur van die lewe, juis om ons te heilig.

Jesaja 43:2:
“As jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie.”
Die Engelse vertaling gebruik die woord “when”.
Die vuur sal dus kom.
Wanneer die vuur kom, sal dit jou nie skroei of brand nie.

Petrus sê dat moeilike tye beslis sal kom,
en dat ons nie dan verbaas moet wees nie.
1 Pet. 4:12:
“Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef
waaraan julle onderwerp word nie.
Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.”

Ons weet nie wanneer ons deur die vuur sal gaan,
of hoe warm die vuurproef gaan wees nie.
Maar ons weet dat God ons daardeur reinig, en nie vernietig nie.
Dikwels maak God ons gouer heilig en reinig,
deur die hitte meer te maak.

Maar onthou ook net die volgende woorde in vers 3,
net na die vuur-vers, dat jy nie sal skroei of brand nie,
“want Ek is die Here jou God”…
En, sê vers 5:
“Moenie bang wees nie, Ek is by jou….”

Ernest