Dikwels doen ons as geliefdes iets vir mekaar.
Ons hoef dit nie te doen nie, maar ons doen dit uit liefde.
Jy sal byvoorbeeld opstaan en die skottelgoed vir jou vrou was.
Wanneer sy dankie sê,
is dit vir jou lekker om te sê jy doen dit uit liefde vir haar.
Jesus konfronteer die Efese gemeente omdat hulle Hom
“nie meer so lief het soos in die begin nie” – Openbaring 2:4.
Hulle doen nog steeds baie goeie dinge!
Jesus sê ook vir hulle dat Hy hul goeie dade raaksien.
Vers 2:
“Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid,
en julle volharding...
Vers 3:
“Verder volhard julle ook; julle het baie vir My Naam verduur,
en julle het nie moeg geword nie.”
Jesus sien dit alles raak.
Maar Hy sien óók hulle doen dit nie meer uit liefde nie.
Goeie dade vir die Here moet altyd dade van aanbidding wees.
Dade van egte en opregte liefde vir die Here.
Om versoekings te vermy, ander te vergewe,
mense lief te hê, en te dien,
moet alles gedoen word uit ons liefde vir die Here!
Nie om erkenning te kry, of enige iets anders nie,
Voorbeeld:
Wanneer ons iemand ‘n plekkie voor ons gee in die verkeer,
en hy sê nie dankie nie, is ons sommer omgekrap en teleurgesteld.
Wanneer ons dit vir die Here doen,
ontstel dit ons nie meer dat hy nie dankie sê nie.
Ons fokus daarop dat ons dit uit liefde vir die Here doen,
en nie op die persoon se reaksie nie.
Doen dit wat goed is uit liefde vir die Here.
Kol. 3: 23:
“Wat julle ookal doen,
doen dit van harte soos vir die Here,
en nie vir mense nie…”
Liefde as ‘n daad vir die Here, is ware liefde.
Ernest