In die Westerse kultuur het besigheidskaarte belangrik geword.
Dit het belangrike inligting in ‘n neutedop op ‘n klein kaartjie.
Op die golfbaan, of in ‘n hysbak, of by ‘n onverwagse ontmoeting,
is dit gemaklik om dit gou aan iemand te gee.
Party besigheidskaarte sê hoe belangik die persoon is,
en hulle verwag dan ook sommer ander en beter behandeling,
as vir die gewone ou.

 

1 Timoteus 1:1 sou seker op Paulus se besigheiskaartjie kon staan:
“…Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus,
in opdrag van God ons Verlosser, en van Christus Jesus ons hoop.”
‘n Apostel – iemand wat uitgestuur is.
Paulus het hierdie titel nie uit hoogmoed gebruik nie.
Dit was vir hom absoluut onverdiende genade dat hy ‘n apostel kon wees.
‘n Apostel van Jesus in opdrag van God!
Nie deur ‘n mens aangestel nie, maar deur God.
Uit genade.

 

Voorheen het Paulus Jesus belaster, vervolg en beledig – 1 Tim. 1:13.
Hy het homself ook as die grootste van alle sondaars beskou – vers 15.
Maar as gevolg van die genade van God is hy nou ‘n apostel.

 

Is jy nie ook aangestel deur God nie?
Dit is tog elke kind van die Here se roeping.
Om God te verteenwoordig waar jy leef en werk.
Jy word juis dáár deur God aangestel,
en uitgestuur om die evangelie dáár te leef.
Is dit vir jou ook, soos vir Paulus,
‘n voorreg om dit dáár vir God te doen?

 

Wat sal jy, deur die genade van die Here,
op jou besigheidskaartjie wou skryf?
Sal jy die uitdaging aanvaar om dit ook elke dag uit te leef!?

 

Ernest