Luister mooi wat die Here sê, baie mooi…
Moenie sommer aanvaar jy weet wat Hy wil sê nie…

 

Moses was moeg en kwaad.
Omgekrap dat hy altyd beskuldig word vir alles wat verkeerd gaan.
Jaar vir jaar het hy die volk deur moeilike situasies gehelp.
Hy was gedurig besig om vir hulle by die Here in te tree.
Maar al wat hy kry is kritiek en probleme.
Uiteindelik het hy in sy frustrasie uitgeroep:
“Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” – Num. 20:10.

 

Veertig jaar tevore het hulle dieselfde probleem gehad.
Geen water nie.
Toe het God beveel dat Moses die rots met sy staf moet slaan. – Eks. 17:6.
Hy het gehoorsaam en strome water het uit die rots gekom.
Nou het dieselfde probleem jare later weer opgeduik.
En Moses doen dieselfde as veertig jaar tevore.
Maar dit was die verkeerde ding.
God het hom beveel om met die rots te praat.
Nie om die rots te slaan nie – Num. 20:8:
“Julle moet…met die rots praat, en daar sal water uitkom.”
In sy ongeduld luister Moses nie mooi na wat die Here sê nie.
In sy ongeduld is hy ongehoorsaam, en slaan die rots.

 

Dit gebeur dikwels ook met ons.
Ons luister nie mooi na die Here nie.
Ons dink ons weet wat hy sê, of gáán sê.
Ons is moeg en gefrustreerd en moedeloos en geïrriteerd….
En ons neem sommer aan dat God altyd op dieselfde wyse te werk gaan.
Maar dit is nie so nie.

 

Ons moet mooi luister na die Here.
Somtyds beveel Hy ons om op te tree.
Ander geleenthede beveel Hy ons om te wag.
Soms wil Hy hê ons moet praat en getuig,
en ander kere wil Hy hê ons moet stilbly en op Hom wag.

 

Luister mooi na wat die Here sê,
en gehoorsaam dán!

 

Ernest