Mense wil nie graag oor die hel praat nie.
Soos hulle nie graag oor sonde wil praat nie.
Hulle ontken selfs die bestaan van die hel.
‘n Reeds bejaarde rolprentster is deur Larry King in ‘n
geselsprogram gevra of hy die hemel of die hel verkies.
King het na Billy Graham verwys,
wat in ‘n ander geselsprogram aan hom gesê het dat
hy weet dat hy op pad hemel toe is, en uitsien daarna.
King het gevra wat die rolprentster glo.
Die man het geantwoord dat hy van aksie en beweging hou,
en dat die hemel vir hom te rustig klink.
Van sy beste vriende sal ook nie daar wees nie,
en hy sal eerder wil wees waar hulle is.
Daar sal baie meer in die hel te doen wees.
Baie mense dink dat die ryk van die Satan
aanlokliker is as die koninkryk van God.
Hoe kan mense oortuig word dat die hel
‘n verskriklike toestand moet wees?!
Die enigste manier is om te sê wat die Bybel daaroor sê!
Daniël 12:2 sê dit is ‘n plek van ewige skande en veragting.
Lukas 16:23 en 24 praat van pyn en vuur.
Matteus 8:12 sê hulle sal daar huil en op hulle tande kners.
Openbaring 14:11 sê daar is geen rus nie.
Die Bybel laat niemand toe om te dink die hel kan ‘n goeie plek wees nie.
Vir die wat die Here dien, is dit verskriklik om te dink
God sal gladnie daar wees nie!
Dieselfde Christus wat oor die heerlikheid van die hemel praat,
beskryf ook die verskriklikheid van die hel.
Kom ons lééf ander mense na die koninkryk van God toe!!
Dit is ons roeping!
Aan ons is die bediening en die boodskap van die versoening toevertrou!
2 Kor. 5:18-19.
Ernest