Wees inskiklik teenoor alle mense
"Wees inskiklik teenoor alle mense.
Die Here is naby." - Filippense 4:5.
Ja, jy lees reg, alle mense!
Natuurlik bedoel Paulus nie dat jy maar net
moet inval by wat almal doen nie.
Of moet ja en amen op wat almal sê nie.
Jy gee nie toe aan iets wat teen die wil van die Here is nie.
Ons weet dit mos nou.
Wat hierdie Woord wel sê,
is dat ons onselfsugtig en verdraagsaam
teenoor mekaar moet wees.
Ons moet nie ten alle koste ons eie wil laat geld nie.
Ons steun ook ander mense se belange, en planne,
en idees, en deel hul visie.
Jesus het gesê ons moet mekaar dien,soos Hy,
toe Hy sy dissipels se voete gewas het.
Werk hard daaraan om onselfsugtig te wees.
Wanneer die Woord hier sê "die Here is naby",
beteken dit tog ook dat Hy daar is
waar jy saam met ander mense is.
Naby.
In ons teenwoordigheid waar ons saam leef.
Leef dan bewustelik so, met die wete:
Die Here is ook hier.
Dit gaan nie oor my wat in die middelpunt is nie.
So word jy minder,
en Hy meer,
en is jy meer inskiklik teenoor alle mense.
Alle mense.
Alle mense is vir die Here kosbaar!
Die Here is naby!
Leef doelbewus in sy teenwoordigheid.
Ernest