Leef wat jy glo!
Om op te offer vir jou geloof,
is om dit radikaal in alle omstandighede uit te leef!

Matteus 5:10 sê:
“Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Kyk net wat het blykbaar met die dissipels gebeur ter wille van hulle geloof:
Matteus is met ‘n swaard gedood.
Markus het gesterf nadat hy wreed deur die strate gesleep is.
Lukas is in Griekeland aan ‘n olyfboom opgehang.
Johannes het blykbaar in ‘n pot vol kokende olie beland,
maar het die dood vrygespring, en is na Patmos verban.
Petrus is onderstebo gekruisig in Rome.
Jakobus die Grote is onthoof in Jerusalem.
Jakobus die Mindere is van ‘n tempeltoring afgegooi,
en toe met stokke doodgeslaan.
Bartolomeus is lewendig verbrand.
Andreas is aan ‘n kruis vasgemaak,
en hy het bly getuig tot hy dood is!
Tomas is in Coromandel met ‘n lans deurboor.
Die ander Judas is met pyle dood geskiet.
Mattias is eers gestenig, en toe onthoof.
Barnabas is by Salonika gestenig.
Paulus is, na verskeie martelings, deur keiser Nero in Rome onthoof.

Vandag nog sterf mense vir Jesus.
Ons kan ons geloof vrylik uitleef!
Hoe kan jy opoffer vir jou geloof?
As jy bereid is om daarvoor te sterf,
moet jy mos ook bereid wees om dit te leef!!
Al wat van jou gevra word is om radikaal uit te leef wat jy glo!
Kom wat wil!
Leef jou geloof!

Ernest