Dit is baie moeilik om in eie krag te volhard,
in jou geloof en in die roeping wat die Here jou gee.
Demas was een van Paulus se medewerkers.
En toe kom daar 'n punt wat hy sukkel om te volhard,
en uiteindelik vir Paulus in die steek laat.
Ons almal laat mekaar een of ander tyd in die steek.
Die hartseer in hierdie gebeure,
is die rede waarom Demas vir Paulus in die steek gelaat het.
En daarom ook die Here in die steek laat!
 
Paulus sê in 2 Timoteus 4:10 :
"...Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat."
Hy het die wêreld meer liefgekry as sy roeping en dienswerk vir God.
 
Ons het veral drie vyande in hierdie wêreld:
die Satan,
ons eie sondige natuur en
die sondige wêreld waarin ons leef.
 
Satan doen alles in sy vermoë om die wêreld te misbruik,
juis om doelbewus by jou uit te kom!
Hy wil jou weglok van jou roeping vir die Here.
Hy wil jou ontrou maak aan dit wat jy vir die Here doen.
So word jy ook ontrou aan die Here Self.
 
Die wêreld se invloed is baie groot.
Maar die Here gee vir sy kinders die hulp
en krag van die Heilige Gees - Handelinge 1:8.
Met die krag van die Heilige Gees kan jy
volhard in die wedloop van die lewe.
Die keuse lê dus by jou.
Jy is nie uitgelewer aan die wêreld nie.
 
Paulus kies om in die krag van die Heilige Gees te volhard.
Dit is al hoe jy kan volhard!
Ons weet Paulus het dit geensins maklik gehad nie.
Maar die Hielige Gees laat hom volhard.
Die geheim lê ook in Hebreers 12:1-2:
"...en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê,
met volharding hardloop,
die oog gevestig op Jesus,
die Begin en Voleinder van die geloof."
 
Kies om deur die Gees te volhard!
Hy hou jou oog op Jesus!
 
Ernest