Jesus genees 'n stom man wat in die mag van 'n duiwel was.
"Die menigte het hulle verwonder en gesê:
"So iets het nog nooit in Israel gebeur nie."
Maar die Fariseërs het gesê:
"Dit is met die hulp van die aanvoerder van die duiwels,
dat hy die duiwels uitdryf." Matteus 9:33-34.
Die lewe is vol sulke mense.
Mense wat mislukking-voorspellers is.
Mense wat moeilikheid-sieners is.
Baie is ook probleem-soekers.
En dan is daar natuurlik die alles-verklaarders.
Mense wat hulle sin vir verwondering verloor het.
Hulle kan nie, soos hierdie menigte, hul verwonder nie.
Hulle mis die wonderwerk van die Here, soos hierdie Fariseërs.
Hulle is net nie oop vir die Here se wonderwerk in ons lewens nie.
Mense staan inderdaad nooit neutraal nie.
Veral nie ten opsigte van die wonderwerk van die Here nie.
Mense sien dieselfde ding, maar reageer verskillend.
Mense se oog sien dikwels wat die hart voel en die verstand dink.
En so mis ons die wonderwerk van die Here in ons lewens.
Sien raak wat die Here regtig in jou lewe doen!
Verwonder jou daaroor!
Dit is sy wonderwerk in jou lewe!
Jou hele lewe!
Ernest
Sien die Here se wonderwerk in jou lewe!
- Details