In Gen. 12:2 sê die Here vir Abraham: "Ek sal jou seën".
Dit is nie net mooi woorde nie.
Seën is ook nie ter wille van my eie gerief,
en gemak, en sukses nie.
Seën beteken dat die Here jou sy guns gee,
en jou dra, ook as dit sleg gaan.
Om deur jou sy Goddelike doel te bereik.
 
Seën kan baie dinge wees.
Dit kan gesondheid wees, materieële dinge,
goeie verstand, jou gesin, vriende, werk, gawes......
 
Maar seën beteken ook dat God jou krag gee
vir die slegte dinge wat op jou pad kom.
Dat God jou toerus en dra in alles.
Hy leer jou om te glo.
Hy gee jou die krag om te volhard.
Hy gee jou onderskeidingsvermoë.
Hy gee jou moed en geduld.
Hy laat jou bid.
Hy laat jou daaruit groei.
Hy laat jou deur dit getuig.
Hy bou jou karakter in Christus,
om meer en meer soos Jesus te wees.
Dit alles is groot seën van die Here!
 
Al sê die Here vir Abraham Hy sal Hom seën,
het Abraham nogtans ook met baie slegte dinge te doen.
Honger, oorlog, bakleiery in sy gesin....
Partykeer het Abraham dit goed hanteer.
Ander kere het hy 'n gemors daarvan gemaak.
Hy lieg vir die koning toe hy die waarheid moes praat oor sy vrou.
Hy maak sy eie planne in plaas van om na God te luister.
 
Maar deur al die moeilikheid en gemors,
dra God steeds vir Abraham.
Ook daarin seën Hy hom.
Hy sien dit dalk nie raak nie.
Hy beleef dit dalk nie.
Hy verloor perspektief.
Hy dink dalk seën beteken dit gaan net goed.
 
God se seën is daar.
Sien dit raak, ook as dit sleg gaan.
In moeilike omstandighede beteken dit nie Hy het sy seën onttrek nie.
 
Leef uit Numeri 6:24-26:
"Die Here sal jou seën en jou beskerm;
die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees;
die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee."
 
Dit is die seën van die Here vir jou!
Of dit goed gaan, of sleg. Dit is sy seën vir jou!
Leef daaruit!
 
ERNEST