Jesus sê in Johannes 10:10:
“Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

 

Iemand het gesê:
“Die lewe is fantasties!
Dit sluit ‘n jaarlikse gratis reis rondom die son in!”

 

Hoe dink jy oor die lewe?
Gaan dit maar net by jou verby?
Die lewe wat die wêreld ons aanbied, is vlak, en ingewikkeld.
Advertensies in die media maak die lewe so kunsmatig!
Dit laat ons uiteindelik leeg en gefrustreerd voel.
Jy moet dit hê! Jy moet dat hê! Jy kan nie sonder hierdie, of daardie nie!

 

‘n Oorvloedige lewe, wat diep is, en vol betekenis is, en lekker is, is regtig eenvoudig.

 

Eerstens: ontdek dat God jou onvoorwaardelik liefhet!
God is só lief vir jou!
Dit is waar die oorvloedige lewe begin!
God het jou só lief, oor Wie Hy is, en oor daar net eén van jou is! (Augustinus)
God het jou uniek gemaak.
Sien jou soos Hy jou sien: spesiaal!
Dink meer oor wié jy vir Hom is,
en hoekom Hý jou hier op aarde geplaas het!

 

Tweedens: jy moet liefhê en uitdeel!
Liefde is nie iets wat jy vir jouself moet, of kan hou nie!
Liefde is bedoel om te gee!
Dit is nie net wonderlik om geliefd te wees nie,
maar nog meer wonderlik om lief te hê!

 

Derdens:
Waag meer saam met God.
Die Jordaanrivier het eers oopgegaan,
toe die Jode hul voete in die water gesit het! Josua 3.
Leef saam met Hom, nie net vir hom nie!
Onthou, jy is op aarde ‘n reisiger op pad na jou Skepper.
Belê in ewigheidsdinge!

 

So eenvoudig, vir lewe in oorvloed!!

 

Ernest