"Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê.
Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê." Johannes 13:34.
 
Jesus sê duidelikhoe ons moet liefhê. Soos Hy!
Dit help nie om op allerhande maniere hieroor te redeneer nie.
Jesus het ons onvoorwaardelik lief.
Hoe kan ons enige grense trek vir ons liefde?
Hoe kan ons enige voorwaardes stel?
Onthou, ons het nie mense se dade lief nie,
maar mense as geskep na God se beeld.
 
Nou moet jy liefhê soos Jesus jóú liefhet,
en soos Jesus ánder liefhet!
Aan Jesus se liefde kan niemand twyfel nie.
Jesus het mense lief, en ons moet hulle ook, soos Jesus, liefhê,
ten spyte van wat hulle doen, of wie hulle is,
ten spyte van hul irriterende gewoontes,
of dat hulle ons net ken as hulle ons nodig het,
ten spyte van botsende persoonlikhede,
of botsende belange,
of botsende oortuigings.
 
Dit is die liefde waarmee Jesus liefhet.
Die liefde.... ten spyte van.
Is hierdie nuwe gebod vir jou ou nuus?
Dit is nie die vraag nie!
Die vraag is of jy al sóós Jesus liefhet?!
 
ERNEST