Abraham hoor die volgende tipe van boodskap:
"Los dadelik alles wat jy het en waarmee jy besig is.
Ek het vir jou iets groot wat baie meer as dit werd is!
Kom saam met my."
Sal Abraham dit doen?
Sal jy dit doen?
Sal jy alles los, en saam met my kom as ek dit vir jou sou sê?
Dit gaan natuurlik afhang of jy my op my woord kan neem!
As jy dink ek praat die waarheid, sal jy kom.
As jy dink ek lieg, sal jy bly waar jy is.

Dit is die keuse wat Abraham moet maak.
God sê vir hom:
"Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af,
na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys." Genesis 12:1.
Abraham moet besluit of hy alles gaan los.
Hy weet nie eers waarheen nie.
Hy het net God se woord.
Net dit.
Gaan hy God op sy woord neem?

"Abraham het toe weggetrek,
gehoorsaam aan die woord van die Here." Gen. 12:4.
Hy is bereid om alles te los omdat God hom sy woord gegee het!
Dit is geloof!
Om God op sy woord te neem!
Dit is ook wat die dissipels moes doen toe Jesus gesê het:
"Volg My!"

God gee jou sy woord om jou God te wees en vir jou te sorg.
Gaan jy Hom op sy woord neem?
Jy het God se woord!
Neem Hom op sy woord!

ERNEST