Jesus se dorpsmense wat Hom as seun geken het,
kon en wou nie glo dat Hy die Messias is nie.
Hy is tog maar 'n blote timmerman.
Markus 6:3 sê die mense wou niks van Hom weet nie!
Sy eie dorpsmense!
Iets of iemand kan reg voor jou wees,
en jy mis die belangrikheid daarvan!
In 1905 het die Universiteit van Bern 'n Ph.D.-verhandeling afgekeur.
Dit was vir die geleerdes net te onwerklik en irrelevant.
Die student wat die slegte nuus ontvang het, was Albert Einstein.
Hulle het sy relatiwiteitsteorie afgekeur!
Dit is amper of jy so naby aan iets kom, dat jy dit mis!
Jy staan so naby aan die boom voor jou, dat jy nie die woud raaksien nie.
Ons kan Sondag na Sondag kerk toe gaan,
maar ons mis die Here Jesus!
Ons ken Hom maar op dieselfde manier as wat ons ons bure ken.
Ons praat so nou en dan persoonlik met mekaar,
maar die meeste van die tyd groet ons maar net so in die verbygaan.
Dit is wat met Jesus se dorpsmense gebeur het.
Hy is mos die gewone timmerman, en hulle ken sy familie.
En die Jesus-oomblik gaan by hulle verby!
Hulle mis die Goddelike oomblik en die Here se teenwoordigheid!
Het ons ook, soos sy eie dorpsmense en familie,
so gewoond aan Hom geraak,
dat ons sy teenwoordigheid hier reg by ons misloop?!
Ernest