Mens, met watse planne is jy besig? Is dit jou eie planne, of die van Mý?

Aan die begin het God die mens die opdrag gegee om die aarde te bewoon en te bewerk (Gen 1). Jesus roep ons reeds van die begin af! Die brief aan die Romeine (en steeds vandag) word ons herinner dat die verlossing uit genade deur God geskenk is en dat Hý ons vryspreek in die naam van Jesus Christus. Glo net! Tog sê baie (soos beskryf deur Joyce Meyer in die Lééf, September 2016) dat hulle kerk toe gaan. In dieselfde asem vra Joyce Meyer, is die feit dat jy kerk toe gaan ’n bewys van jou geloof? Is dit ’n bewys dat as jy uit die kerk stap daarna dat jy Sý Woord daagliks bestudeer? Hier het ek myself oor die vingers getik en tot God geroep! Here ek bestudeer nie U Woord daagliks nie! Ek gebruik tyd as ’n verskoning. Is dit nie maar ons almal se verskoning nie?

Na aanleiding van my eie bewuswording van tyd, wonder ek toe oor ons as gelowiges in NGK Wonderboom, néé die Ring van Wonderboom. Ons het tyd om kerkraad-, en ringsvergaderings by te woon, maar ons het nie tyd om God se Woord werklik te soek nie. Ons het tyd om te gaan fliek, die Comrades te hardloop, na bekende sangers te luister by die Barnyard teater, ens., maar ons het nie tyd om God se roepstem te hoor nie! Dit is mos die predikant se werk om elke Sondag die Woord aan ons uit te lê. Is dit nie? Dit is mos die predikant se verantwoordelikheid om die nood aan dié kant van die berg te sien en te hanteer. Ek het nie tyd om uit te reik na ander nie, want my werk, kinders, studies, stokperdjies, sport, ens. vereis te veel van my tyd. Is dit nie die predikant se werk om uit te reik namens ons nie. Hy/sy is dan voltyds ’n geroepene om hierdie werk te doen. Hy/sy is dan die dissipel van Jesus om diensbaar te wees aan ons! Ek kan tog nie ’n dissipel van Jesus wees nie, ek het nie tyd nie. My volgende gevolgtrekking is dus dat ons slegs bewoners van die aarde geword het. Ons bewerk nie God se aarde nie. Wie se skuld is dit? Jan van Riebeeck? Tegnologie? Ons politieke omstandighede in die land? Ons twis met die VGK kerk oor Belhar? Of is dit bloot dat ons nie wil betrokke raak nie? Soos Nataniël onlangs geskryf het in een of ander tydskrif; te veel informasie en te min filters. Hoe gaan ons as mens al die informasie filter om uit te kom by die antwoorde of ons WIL betrokke raak en HOE ons gaan betrokke raak tot die gemeenskap van God? Jammer om u teleur te stel, ek het nie die antwoord op die vraag nie., ek vertroue God (Ps 91:2) dat Hy met tyd u roeping aan u sal bekend maak. U sal slegs u roeping raak sien as u in die gees van Jesus Christus leef.

Rom 12:2 “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Is jy bereid om jou eie planne opsy te skuif en te luister na God om Sy wil werklik te hoor?