1. Gestuurde gemeente
Ons is ’n gestuurde gemeente wat wil luister en gehoorsaam wees aan God se spesifieke roeping vir ons. Ons wil deur die Heilige Gees toegerus word om deel te wees van God se sending in hierdie wêreld en ons wil uitreik na die gemeenskap en die wêreld en saam as gemeente ’n getuienis uitleef vir Jesus Christus.
2. Bevestiging uit die Woord
As teksgedeelte het die Here vir ons gemeente 2 Korintiërs 3:18-4:7 gegee, veral hoofstuk 4:5-7: “Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis’, het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
3. Roeping en identiteit
As gestuurde gemeente wil ons dan ons roeping en identiteit uitleef deur
Ø God Drie-enig te aanbid met ons hele lewe as openbare getuienis en Hom te prys met sang en musiek.
Ø Groot waarde te heg aan onderlinge verhoudinge om so God se bedoeling met die wêreld te demonstreer.
Ø God se Woord te bedien en ware dissipels van Jesus te wees wat ons laat vorm deur die Bybel in afhanklikheid van die Heilige Gees.
Ø In die Here se Naam diens aan die gemeenskap te lewer met die gawes wat die Heilige Gees aan ons gee.
Ø As getuies van Jesus Christus met die Evangelie van verlossing uit te reik na die gemeenskap en die wêreld.
4. Vier onderskeidende kenmerke
In 2008 het ons tydens ’n gemeenteseminaar vier onderskeidende eienskappe geïdentifiseer wat ons gemeente as gestuurde gemeente kenmerk. Ons glo dat die Here deur die leiding van sy Heilige Gees hierdie eienskappe aan ons gemeente gegee het en dit wil uitbou. Die vier kenmerke is
1. Aanbidding van God Drie-enig as ‘n openbare getuienis [erediens en lewe].
2. Bybelse vorming en dissipelskap [toerusting, leer en groei].
3. Lewe in afhanklikheid van die Heilige Gees [gebed en gehoorsaamheid].
4. Uitleef van God se bedoeling met die wêreld [geloofsgewoontes].
4.1 Aanbidding van God Drie-enig as openbare getuienis
Ons aanbidding van God Drie-enig staan sentraal in ons viering van God se teenwoordigheid en God se toekoms vir ons. Ons viering gaan met dankbaarheid en vreugde gepaard. Ons aanbidding is terselfdertyd ’n openbare getuienis in en teenoor die wêreld. Ons aanbidding reik uit en trek mense na ons gemeente. Ons aanbid met ons hele lewe en prys God ook met sang en musiek van verskillende style. Lees 2 Korintiërs 4:5-6.
Ons besef dat elkeen van ons vir God en sy vreugde geskep is. Dit gaan in aanbidding nie oor onsself nie, maar om die verheerliking van God Drie-enig. Dit geskied ook nie net deur die eredienste en kleingroepgeleenthede nie, maar deur ons hele lewe. Aanbidding vra ons hele lewe! Lees Kolossense 3:23-24 en 1 Korintiërs 10:31.
Aanbidding is ’n lewenswyse. Dit behels meer as eredienste bywoon, lofprysing of gebed. Dit is om met jou hele lewe op God te fokus. Om God in ’n persoonlike verhouding te aanbid. Lees Hosea 6:6 en Johannes 14:15. Aanbidding is om God met jou hele lewe te vertrou en te gehoorsaam en dankbaar teenoor God te leef. [Jakobus 1:17]. Aanbidding is jou totale oorgawe aan God – jou spontane en dankbare reaksie op God se liefde en genade. Lees Romeine 12:1-2 en Psalm 37:7.
4.2 Bybelse vorming en dissipelskap
Ons laat ons as gestuurde gemeente deur die Bybel vorm en groei in Bybelse dissipelskap. Ons wil meer en meer as dissipels van Jesus Christus leef en groei met die Bybel as norm. Lees 2 Korintiërs 4:13 en 16 en Romeine 12:1-2.
Ons besef dat ons geroep is om al meer die beeld van Jesus Christus in ons daaglikse navolging te vertoon. Daarom wil ons ook ander mense met God se Woord dien en bedien en ware dissipels van Jesus wees met die Bybel as fondament. Ons besef dat ons ook die roeping het om dissipels te maak.
Ons laat toe dat gebed ons persoonlik en as gemeente vorm. Lees Filippense 4:6, Johannes 16:23-24 en Matteus 6:5-14. Ons ontmoeting en interaksie met die Here begin met sy Woord en ons antwoord in gebed. Ons verhouding met God bly lewend en groei deur ’n lewende gebedsverhouding en stiltetyd. Lees 2 Timoteus 3:15-17.
4.3 Lewe in afhanklikheid van die Heilige Gees
Ons leef al meer in afhanklikheid van die Heilige Gees. Ons bid saam “nie ons wil nie, maar U wil” en vertrou die Heilige Gees om ons gebede te verhoor. Ons leef uit die gawes wat die Heilige Gees vir ons gee met die versekering: Ons kan nie, maar God [die Heilige Gees] gaan. Ons aanvaar as gemeente uitdagings met die wete dat die krag wat alles oortref, van God af kom – nie van ons nie! Lees 2 Korintiërs 4:7.
Ons besef dat die Heilige Gees ons kinders van God gemaak het en dat Hy ons as sy kinders laat lewe. Lees Efesiërs 1:17, 1 Korintiërs 12:3, Romeine 8:14-17 en Handelinge 7:51. Ons besef dat die Heilige Gees voortdurend in ons lewe werk en dat ons nie die Heilige Gees moet weerstaan nie. Hy lei ons om Geesvervuld te lewe. Lees Galasiërs 5:25 en Romeine 8:1-2 en 9.
Die Heilige Gees bevry ons om die wil van God te doen. Dit is ook die Heilige Gees wat ons biddend laat lewe. Lees Romeine 8:26-27 en Efesiërs 6:8. Die Heilige Gees laat ons op grond van God se beloftes bid. Hy laat ons ook uit die Woord van God lewe. Lees Efesiërs 6:17, Galasiërs 3:5 en 1 Johannes 4:6. Die Heilige Gees bepaal my gedrag en laat my ook saam met ander medegelowiges in ’n geloofsgemeenskap lewe. Lees Efesiërs 2:19 en Filippense 2:1. Daarom laat die Heilige Gees ons ook oor God getuig [Handelinge 1:8 en Lukas 12:11-12] en die vrug van die Gees dra [Galasiërs 5:22 en 25].
4.4 Uitleef van God se bedoeling met die wêreld
Ons leef as gestuurde gemeente God se bedoeling met die wêreld uit. Die wyse waarop ons versorging, versoening, liefde, vergifnis en gasvryheid teenoor mekaar betoon, demonstreer God se bedoeling met die wêreld en trek mense aan. So leef ons as verteenwoordigers van die Here geloofspraktyke uit.
Die wyse waarop ons as gelowiges teenoor mekaar optree, is juis die manier waarop mense na die gemeente en God getrek word. Ons demonstreer God se bedoeling met die wêreld deur die manier waarop ons teenoor mekaar en ons gemeenskap optree. Ons is geskep - nie om gedien te word nie, maar om God en ons medemens te dien. Lees 2 Korintiërs 4:2 en Efesiërs 4:25-32. Bid dat ons as mense van die lig sal lewe.
Dit beteken dat ons meer na mekaar moet luister, minder moet praat en meer moet doen. Lees Jakobus 1:19-27. In ’n stukkende wêreld moet ons mekaar se pyn en seer dra en mekaar bemoedig. Lees 2 Korintiërs 1:3-7. Ons moet meer geduld met mekaar hê. Lees 2 Korintiërs 4:16-17. Ons moet ook sout en lig vir mekaar en ander wees. Lees Matteus 5:13-16 en 2 Korintiërs 4:1-6.
5. Na wie stuur God ons?
Ons het tydens ’n gesamentlike gemeentebyeenkoms agt groepe mense geïdentifiseer na wie die Here ons stuur buiten ons normale fokus op die gemeente nl. 1. Enkelouergesinne, 2. Kerkraad en kerkgangers [geestelike volwassenheid en gawes], 3. Gesinsverband [huwelike, gesinne, ouerskap en jeug], 4. Kerklos en kerklose mense, 5. Armsorg [armes, haweloses en werkloses], 6. krisissorg [siekes, bedroefdes, getraumatiseerdes, noodlydendes en verslaafdes], 7. Bejaardes [ook buite die aftree-oorde] en 8. Vennote in die gemeenskap soos die CMR en die krisissentrum. Ons is reeds op verskillende vlakke by baie van hierdie fokuspunte betrokke.
6. Gestuurde uitdagings
Dit is egter onmoontlik om op almal gelyk te fokus. daarom het ons dit verder verfyn na vier gestuurde uitdagings. ’n Gestuurde uitdaging is ’n groep mense na wie God ons stuur wat ons nie met bestaande en tegniese kennis alleen kan bereik nie. Aanpassende veranderinge en luister is nodig om hierdie groepe saam met hulle te bereik en te bedien. Die uitdagings is 1. Enkelouergesinne, 2. Gesinsverband 3. Kerkraad en Kerkgangers en 4. Kerklos en kerklose mense.
By die eerste kategorie kom enkelouers, gebroke gesinne en enkellopendes ter sprake. Weduwees, wewenaar en geskeide mense kom ook hier ter sprake.
Die tweede kategorie handel oor die bereiking van gesinne in vandag se gemeenskap, huwelikseise, ouerskap en die jeug. Ons is veral bekommerd oor die begeleiding van gelowiges van ouderdomme 25-40 jr. Jong getroudes en gesinne met klein en jong kinders.
By die derde kategorie gaan dit oor leierskap in die gemeente en hoe om gemeentelede/erediensgangers vandag te kan bedien en aktiveer met ’n stelsel anders as die tradisionele wyksbediening. Hier het ons reeds geweldige vordering en aanpassings gemaak via die omgeegroepbediening. Dit is egter steeds iets waarin ons voortdurend groei en leer.
En by die vierde kategorie gaan dit oor kerklos [lidmate] en kerklose mense. God stuur ons na hierdie mense om na hulle te gaan luister en waar moontlik, informele vennootskappe te sluit met hulle om hierdie sake saam aan te spreek. So vorm ons nuwe geloofsgemeenskappe.
7. Wat kan jy doen?
Gebruik onderstaande vrae vir stille oordenking of in groepsverband [individuele gelowige / omgeegroep / gesin / vriendekring].
Word eers stil voor die Here in gebed. Bid tot God t.o.v. ons gestuurdheid. Dank God dat Hy ons deel maak van sy liefdesboodskap en vra Hom om ons geestesoë oop te maak sodat ons kan raaksien waar Hy reeds aan die werk is en waar en hoe ons hierby kan aansluit.
Bid vir jou en jou geliefdes persoonlik met die verhoudings en geleenthede wat julle kry asook vir die groter gemeente se effek op formele en informele vlak.
Hoe dink jy/julle funksioneer die vier kenmerke en die gestuurde uitdagings binne jou lewe, verhoudings en daaglikse lewensgang? Waar sien jy van die kenmerke raak of skuur jy skouers met mense in die verband?
Hoe dink jy funksioneer die gestuurde kenmerke en uitdagings binne jou omgeegroep of die bediening waarin jy staan en in ons gemeente? Hoe leef ons die kenmerke prakties uit en wat kan ons doen t.o.v. die mense/groepe na wie God ons stuur?
Indien jy/julle praktiese voorstelle het, skryf dit op ‘n papier en gee dit by ‘n leraar of omgeegroepleier. Mag ons al meer die gestuurde gemeente word wat God bedoel het ons moet wees!
Kom ons doen dit!