U ken seker die legende, daardie een wat in 1999 (tot vervelens toe) as advertensie op TV vertoon was; van die Chinese keiser wat ‘n outjie met rys op ‘n skaakbord moes beloon; een korrel op die eerste blokkie, twee korrels op die tweede blokkie en so aan, elke keer dubbel soveel op die volgende blokkie. Wel, die uwe moes (?) natuurlik self die eksperiment wiskundig herhaal. Met moeite, bygesê, want dit is nogal verstommend heelwat rys. Om die waarheid te sê, die uwe verstaan nou hoekom die keiser skrefiesoë gekry het, want daar is in totaal net mooi 18 446 744 073 709 600 000 korrels ter sprake (min of meer). Dit is nogal baie, sowat 1,85 x 1019 van hulle.

 

En om dit nou mooi in perspektief te bring moes die uwe toe eers gaan bepaal dat elke korrel gemiddeld 16,7 mg weeg, of te wel ‘n hele verduiwelste 60 002 korrels per kilogram. (Die uwe het ‘n hele 100 gram van die goed geweeg en getel, ja, en dit geëkstrapoleer). Dit beteken dat die keiser sowat driehonderd-duisend miljoen ton rys moes hoes. Nogal heelwat, selfs vir ‘n Chinese keiser in die Middeleeue. En wat die arme skaakbord-outjie met al die rys wou doen, weet nugter. Daar was daardie tyd nog nie eers genoeg Christene om ‘n dinee vir voor te berei nie.

 

Nou wat leer ons vandag uit hierdie legende ? Eerstens, dat u asseblief nie ook so simpel moet wees om die eksperiment te herhaal nie. Gaan versprei liewer die Evangelie en/of Bybels; dis minder uitputtend en meer heilsaam. Maar daar is tog ook ‘n wonderlike boodskap in die eksperiment opgesluit :

 

As elkeen van ons net twéé verlorenes na die Here Jesus sal lei; en húlle lei elkeen weer twee ander na Hom toe, en so aan; dan het ons minder as ‘n skaakbord se blokkies se aantal oorwinnings nodig om die hele wêreld aan Sy voete te lê. Want die héle wêreld bestaan vandag maar slegs uit minder as 7 biljoen mense, of te wel dan 7 x 109, ordes minder as die ryskorrels op ‘n enkele simpel skaakbord. Trouens, u kan maar reeds al na die eerste 30e skaakblokkies ophou (nog nie eens halfpad nie, want daarna is die hele wêreld al versadig en bly nog net die hoenders en die katte en die honde en die klippe oor). Kom ons beywer ons daarvoor; en kom ons bid daarvoor, want dis mos eintlik waarvoor God ons oproep ?!