Ek het vir vandag 'n vergadering gehad met ene Jayson Naidoo. Hy wil graag besigheid met ons maatskappy kom doen. Omrede ek nie die finale besluit kan neem daaromtrent nie, het ek al die inligting bymekaar gemaak, sodat ek dit later met my bestuurder kon bespreek.

Aan die einde van die vergadering, komplimenteer ek Jayson oor die feit dat hy sy produk so goed ken. Hy vertel my toe daar en dan dat sy pa 'n pastoor was, en dat hy dit seker by hom geerf het.

Groot was my verbasing, want alhoewel jy baie Christene, Moslems en Hindu's onder die Indiërs kry, het ek nog nooit gehoor van 'n Indiër pastoor nie.

Vir die volgende halfuur het my mond letterlik oopgehang van verbasing. Hierdie Indiër man hier voor my het 'n lewende verhouding met God, is nie skaam om dit te deel nie, en dan het hy mense kennis sonder gelyke.

Sy verhaal gaan hoofsaaklik oor sy pastoor-pa, en hoe hy dood is.

Hulle het by Umkomaas, langs die Natalse Suid-kus, op 'n plaas gewoon. Hulle het geen lopende water of krag gehad nie. Ten spyte van hulle nederige leefstyl, was hulle nogtans dankbaar vir wat hulle gehad het. Sy pa was die stigterslid van die Gospel Church in Umkomaas. Hy het as pastoor gedien en hulle gesin het uitreik werk gedoen in die gemeenskap. Die gemeenskap het hulle egter uitgejou en verjaag, omrede hulle baie gelowige Christene was in 'n gemeenskap waar Hinduisme en Islam die hoogty gevier het. As gesin het hulle swaar gekry deur hierdie optrede.

Nogtans het dit hulle nie gestop om die gemeenskap te bedien nie. Die genot wat hulle daaruit geput het, was meer as geld wat Pastoor Naidoo nie verdien het nie. Eers vanaf die middle 1990's, kon hy 'n salaris begin trek. Die kerk is in die 1970's gestig.

Pastoor Naidoo was 'n man met 'n groot liefde vir sy God, empatie en deernis vir sy medemens, en 'n groot belangstelling in lees. So het hy dan ook 'n kopie van die Koran, Bhagavadg?t? (Hindu Bybel), Torah asook 'n verkeidenheid van ander skrifte gehad. As kind het Jayson eendag by sy pa se studeerkamer ingestap. Toe hy die verskillende religeuse bybels sien, het hy sy pa gevra waarom hy kopieë daarvan het, want hulle is dan Christene. Sy pa se antwoord was eenvoudig: "My kind, God vra nie watter godsdiens jy beoefen nie, Hy kyk wat in jou hart is. En God het ons na Sy beeld geskape. Hy is lief vir mense, ons moet lief wees vir mense. Hoe is ons lief vir mense? Ons moet hulle verstaan. En eers as ons hulle verstaan, kan ons hulle ook liefhê soos God ons ook liefhet. En om mense te kan verstaan, moet ons verstaan hoekom hulle sekere dinge sê en hoe hulle sekere dinge doen."

Pastoor Naidoo die Sondag voor sy dood, sy finale preek gelewer aan sy gemeente. Tydens die diens, het hy sy gemeente gevra om op hulle knieë neer te gaan, en God om vergifnis te smeek vir hulle sonde. Hy het hulle gesmeek om berou te toon voor God die Vader, die Almagtige. Na hierdie kragtige preek, is hy huistoe. Die Dinsdagaand het hy 'n droom gehad. In die droom loop hy met 'n groot stuk hout oor sy een skouer die pad af. Hy kom toe twee van sy gemeentelede teë, vir wie hy vra waar die fabriek is waar hy hierdie stuk hout moet na neem. Hulle beduie vir hom toe dat die fabriek nog 'n hele entjie af met die pad is. Waarop Pastoor Naidoo na God draai en sê: "Here, hierdie las raak vir my te swaar, Ek kan nie tot by die fabriek loop nie." Waarop God hom antwoord: "My kind, gee my jou las, Ek sal dit vir jou dra". Waarop hy toe wakker word uit die droom uit.

Die droom het hom hewig ontstel, en hy het sy ander seun, Mason, geskakel. Mason is 'n pastoor by die Acts Church, in Midrand. Mason het geluister en hom versoek om eerder uit te tree, aangesien dit lyk of die bediening dalk te veel raak vir sy pa.

Jayson het intussen sy pa ook geskakel, en verneem sy pa is baie depressief oor hierdie betrokke droom. Hy haal sy pa toe om om vir 'n goeie volledige ondersoek te gaan by die dokter. Dalk is sy pa besig om siek te raak. Hy vra sy pa om Jesaja 40:31 te lees: (JES 40:31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.) waarop sy pa sê dat dit een van sy gunsteling verse is.

Die Donderdag skakel hy weer sy pa, waarop sy pa antwoord dat daar geen fout met enige toetse was nie, als is nog reg en die dokter is baie tevrede met sy gesondheid.

Volgens mevrou Naidoo het die res van Donderdag min of meer so verloop:

Daar was twee familielede wat saam met haar man om die eetkamertafel gesels het. Hulle was albei nie-gelowiges. Pastoor Naidoo was besig om met hulle te gesels oor die evangelie. Mevrou Naidoo het op 'n stadium opgestaan om tee te gaan maak. Tydens haar terugkeer, het sy opgemerk dat haar man met geslote oë sit, en dit nogals as ongeskik afgemaak, want een van die ander mans was besig om te gesels. Pastoor Naidoo het na sy Hemelse huis gegaan. Sag, sonder waarskuwing, en op die ouderdom van 60 jaar.

Pastoor Naidoo se kinders het sonder twyfel geweet waar hulle pa heengegaan het. Sy dood was ewe skielik, met geen geweld of siekte nie. God het hom liefgehad, en hy het God liefgehad.

Na Jayson se vertelling, het ek vreeslik nederig gevoel. Van 'n persoon wie ek nie ken nie, het ek iets geleer vandag: Om mense te kan liefhê, soos God my liefhet, moet ek ook leer om hulle te verstaan. Hulle mag dalk nie dieselfde geloof as ek het nie, hulle mag dalk ander omstandighede hê, maar ek as kind van God, moet mense begin verstaan, sodat ek hulle ook kan liefhê.