Hemelvaartdag 29 Mei - Pinkster Sondag 8 Junie 2014

Bid vir ‘n kragtige uitstorting van die Heilige Gees op die kerk
Niemand van ons is onbewus van die krisis waarin die kerk verkeer nie. Oor die algemeen kla gemeentes van doodsheid, ‘n magteloosheid om die leegloop van eredienste te keer, jongmense te behou en ‘n toenemende apatie teenoor die geestelike verantwoordelikhede van die kerk en baie het ‘n oppervlakkige verhouding met God.

Daar is wél gemeentes wat vernuwing beleef, waar baie lidmate ‘n diep persoonlike verhouding met God het en waar die kerk sy opdrag uitvoer in terme van sosiale nood en die groot opdrag.

Die gebrek aan die werking van die Heilige Gees
Die kragteloosheid van die kerk kan altyd aan die gebrek van die werking van die Heilige Gees toegeskryf word. Sonder die krag van die Heilige Gees is die kerk magteloos. So lees ons dat Jesus in Handelinge 1:4 en Lukas 24:49 die dissipels opdrag gee om in Jerusalem te bly tótdat hulle die belofte van die Vader ontvang het. In Handelinge 1:8 sê Jesus dat wanneer die Heilige Gees kom, Hy ons met krag sal toerus en daarná sal ons sy getuies wees tot aan die eindes van die aarde.

In Handelinge 2:1-4 lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees. Ons lees egter verder in Handelinge hoe God weer en weer die Gees op die kerk uitgestort het. Kyk na:

Handelinge 4:31: Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Handelinge 8:15-16: Dié (apostels) het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Handelinge 10:44: Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom (op almal geval) wat na die woord geluister het.

Handelinge 11:15: Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin.

1860 Herlewing en daarna herlewings oor die afgelope 150 jaar in RSA
Hierdie voorafgaande Skrifgedeeltes maak dit duidelik dat die Heilige Gees weer en weer op die kerk “geval” het, “net soos in die begin.” Dit was telkens die ervaring van die kerk oor die afgelope 2000 jaar. Duisende kere het dit gebeur. Geestelike leiers beskryf die herlewing wat in 1860 in die Wes- en Suid-Kaap uitgebreek het in presies dieselfde terme. Die volgende 50 jaar na 1860 word daar geskryf hoe hierdie tipe groter herlewings weer en weer plaasgevind het.

In 1863 het die NG Kerk besluit om jaarliks die 10 dae voor Pinkster te bid met die doel om God te vra om Sy Heilige Gees weer op hulle gemeentes uit te stort. Gedurende die afgelope 153 jaar (na 1860) het tienduisende gemeentes getuig van tye van herlewing. Soms is dit genoem tye van verkwikking of vernuwing. In die proses, oor die afgelope 153 jaar, het letterlik miljoene mense in hierdie tye van gebed en spesiale dienste tot bekering gekom. Honderde duisende het getuig van persoonlike vervulling met die Heilige Gees. Gemeentes het onteenseglike bewyse gehad van totale verandering in die geestelike toestand van hulle gemeentes.

Hierdie gebedstye en dienste voor Pinkster is nie net in die NG Kerk gehou nie. Talle denominasies het dit gedoen en het dieselfde vrug gesien.

‘n Oproep
Hierdie is ‘n landswye oproep:
Vir spesiale tye van gebed vanaf Hemelvaart tot Pinkster 2014.
Om tydens hierdie 10 dae voor Pinkster te bid vir ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees.

Deur die eeue het God dit weer en weer in die kerk gedoen. Hy kán dit weer doen en daar is geen rede om te glo dat Hy dit nie weer wil doen nie.

Vra ander gemeentes in jou dorp/stad om ook so ‘n tyd van gebed opsy te sit. Laat ons eendragtig na die krag en uitstorting van die Heilige Gees soek.

Prakties
Sit die 10 dae voor Pinkster Sondag, vanaf Hemelvaart 29 Mei tot Pinkster Sondag 8 Junie eenkant vir ‘n spesiale tyd van gebed en dienste wat gefokus is op die werking van die Heilige Gees en gebed vir ‘n nuwe uitstorting van die Gees op die gemeente en die land.

Kry lidmate om gedurende hierdie tyd elke dag of so dikwels moontlik gedurende hierdie 10 dae 15 minute, 30 minute of ‘n uur opsy te sit om hiervoor te bid.

Gemeentes kan dit oorweeg om ‘n gebedskamer in te rig waar mense letterlik vir die volle 10 dae dag en nag voor God kan staan om te bid vir herlewing, vernuwing, die uitstorting van die Heilige Gees.

Ons situasie is uiters kommerwekkend
Ons situasie is ernstig. God se beloftes is nog steeds geldig. Sy Gees is steeds beskikbaar. Die kerk se kragteloosheid word áltyd oorkom wanneer die Heilige Gees kom en die kerk bekragtig om sy werk te doen.

Ons leef nie tans in die volheid en krag wat die Vroeë Kerk beleef het nie. Tog is dieselfde krag en volheid vir ons ook beskikbaar. God gee áltyd Sy Gees in antwoord op gebed. Laat ons opnuut in hierdie tyd van die herdenking van Pinkster onsself voor die Lewende God van alle eeue stel, Hom aanroep en met onverskrokke vertroue onverpoos uitroep vir Sy ingrype op alle vlakke van die samelewing in ons land.


Donderdag 29 Mei 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 1
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Die Beeld van die onsienlike God

Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. (Kolossense 1:15, 16, AOV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As Jou Skepper; die Alfa en die Omega; die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste; die Een in wie jy uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld.

BID
Dat die Kerk die Skepper getrou sal erken, in ‘n wêreld vol leuens.
Dat die Kerk aan Christus gelykvormig sal word in alle opsigte en so die onsigbare God sigbaar maak.
Dat die wêreld Jesus Christus, en die beeld van die onsigbare God, sal sien en beleef deur die liefde, gedrag, woorde en ontferming in die lewens van gewone Christene, en oortuig sal word dat God bestaan.

Lees en bepeins Openbaring 1 en 2. 


Vrydag 30 Mei 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 2
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Die Seun van God

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. (Johannes 3:16-18, AOV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die Seun, wat deur God die Vader gestuur is, wat die liefde van God gedemonstreer het deur Sy gewilligheid om Homself te verneder, in die gelykenis van die sondige mens te kom, sodat almal wat glo dat Hy die Seun van God is, die ewige lewe sal verkry.

BID
Dat die Kerk die noodsaaklikheid van sondebelydenis en vergiffenis sal insien, asook die voorreg om deel te hê aan die Goddelike natuur.
Dat die Kerk, deur die Gees van aanneming, ware seuns van God sal wees, en deur hulle heilige lewenswandel, goeie werke en gewilligheid om as lewende offers op die altaar geplaas te word, sal getuig dat hulle verlos is van sonde.
Dat die wêreld sal verstaan dat Jesus waarlik die Seun van die lewende God is; vir die verwydering van al die wanvoorstellings van Christus, die leuens aangaande Hom, God die Vader en die Heilige Gees.

Lees en bepeins Openbaring 3 en 4.


Saterdag 31 Mei 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 3
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Seun van die Mens

Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. (Matteus 16:13-17, ANV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die beloofde Messias, wat mens geword het sodat Hy die dood kon smaak, ons van die vloek van die wet kan verlos, en namens ons, die skuld van sonde te kon betaal.
Eer Hom as die Een wat, deur te sterf, die duiwel en al sy werke vernietig het, en die hele mensdom van die vrees vir die dood verlos het.

BID
Dat die Kerk hulle vryheid van die dood, sonde en Satan sal besef en ontvang; sal opstaan en hulle outoriteit oor al die werke van Satan sal opneem.
Dat die Kerk hulle verantwoordelikheid om die Goeie Nuus aan alle mense, in alle lande te verkondig, sal opneem.
Dat die wêreld vrygemaak sal word uit die vesting wat deur die god van hierdie wêreld se leuens en argumente in hulle verstande opgerig is, en wat hulle verhoed om God te ken; dat hulle harte sal versag en gereed word om die Woord van God te ontvang sodat hulle uit die duisternis bevry kan word.

Lees en bepeins Openbaring 5 en 6.


Sondag 1 Junie 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 4
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Ons Voorspraak

Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. (1 Johannes 2:1-2, NAV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die Regverdige wat vir ons intree, en wat deur Sy geregtigheid ons regverdig verklaar het, sodat ons, wat in Christus is, nie langer veroordeel word nie, maar vergewe, gereinig en regverdig verklaar is, en aan ons die reg gegee het om kinders van God genoem te word.

BID
Dat die Kerk sal begryp hoe wonderlik dit is dat ons Voorspraak in die hemel vir ons bid.
Dat die Kerk gevul sal word met die gees van gebed en smeking, en saam met Jesus en die Heilige Gees intree in gebed.
Dat die wêreld sal besef dat daar ‘n Regter in die hemele is, en dat daar wel ‘n Dag van Oordeel kom – ‘n Dag waarin almal voor die wit troon van God sal verskyn en verslag sal moet lewer oor hulle lewens.
Dat die wêreld daarvan oortuig sal word dat hulle die boodskap van die Evangelie weerstaan en rebelleer teenoor God.

Lees en bepeins Openbaring 7 en 8.


Maandag 2 Junie 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 5
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Ons Barmhartige Hoëpriester
Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word. (Hebreërs 2:17-18, ANV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die Een wat in alles self versoek was, net soos ons.
As ons barmhartige en getroue Hoëpriester, wat in staat is om ons te help wanneer ons versoek word, omdat Hyself gely het onder versoeking en dit oorwin het.

BID
Dat die Kerk in die vryheid van volkome vergiffenis en herstel sal wandel.
Dat die Kerk versoekings, beproewings en vervolging sal oorwin en die koninklike priesterskap waarvoor ons geroep is, sal opneem.
Dat die wêreld die barmhartigheid, genade en goedheid van die Hoëpriester sal beleef deur die bedieninge van die Liggaam van Christus.
Dat die wêreld die krag van vergiffenis en genade sal leer ken, en hul harte ontvanklik sal wees vir die liefde en teerheid van Jesus Christus, hulle Verlosser.

Lees en bepeins Openbaring 9, 10 en 11.


Dinsdag 3 Junie 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 6
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Die Brood van die Lewe

“Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” (Johannes 6:51, ANV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die Een wat vir ons oortredinge deurboor is, vir ons ongeregtighede verbrysel is, en deur wie se wonde daar vir ons genesing gekom het.

BID
Dat die Kerk ‘n voorbeeld sal wees van ware geestelike en fisiese genesing.
Dat versoening tussen rassegroepe sigbaar sal wees onder gelowiges, en vir die genesing van emosionele trauma en hartseer.
Dat die Kerk bekend sal word daarvoor dat hulle gewilliglik hulle kos deel met die wat honger is, klere verskaf vir die wat kaal is, en huisvesting bied vir die haweloses.
Dat die wêreld, wat rondsoek na bevrediging op plekke wat nie kan bevredig nie, die Brood van die Lewe uit die hande en harte van gelowiges sal ontvang.

Lees en bepeins Openbaring 12 en 13.


Woensdag 4 Junie 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 7
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Die Weg, die Waarheid, die Lewe

“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?” Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. (Johannes 14:1-6, ANV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het, as die Seun van die Vader, vol genade en waarheid.
As die Een wat gekom het om oor die waarheid te getuig, en wat begeer dat alle mense tot kennis van die waarheid sal kom.

BID
Dat die Kerk weereens die onverdunde en onteenseglike waarheid aangaande Jesus, en dat daar geen verlossing is behalwe deur Hom nie, sal verkondig.
Dat gelowiges die Vader in gees en waarheid sal aanbid.
Dat die sluier wat oor die verstande en harte van ongelowiges is (mense in die wêreld) verwyder sal word deur die prediking van die waarheid.
Dat misleiding ontbloot en oningeligtes ingelig sal word, sodat Jesus se verklaring vervul kan word: Julle sal die Waarheid ken, en die Waarheid sal julle vrymaak!

Lees en bepeins Openbaring 14 en 15.


Donderdag 5 Junie 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 8
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Die Goeie Herder

Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. (Johannes 10:14-16, ANV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die Een wat gereed is om te vergewe; genadig en barmhartig; stadig om kwaad te word en vol liefde en getrouheid; wat al ons sondes vergewe en al ons siektes genees.

BID
Dat die Kerk na die stem van die Herder sal luister en reageer; Hom gewilliglik volg waar Hy ookal lei, of dit nou na groen weivelde en waters van rus is, of deur die vallei van doodskaduwee.
Dat die Kerk volkome oorgegee sal wees aan die Goeie Herder, vol vertroue dat alles ten goede sal meewerk vir die wat Hom liefhet en vertrou.
Dat die wêreld die ontsaglike teerheid en barmhartigheid van die Herder, wat verlang om hulle in sy arms te neem en naby aan Sy hart te dra, sal ontmoet.
Dat weeskinders, gebroke manne, vroue en kinders, haweloses, oues, siekes en verwerptes Sy liefde en versorging sal beleef.

Lees en bepeins Openbaring 16 en 17.


Vrydag 6 Junie 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 9
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Die Lam wat geslag is

Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. (Openbaring 5:5-7, ANV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die Lam voor die troon, wat waardig bevind is om die boekrol te neem en die seëls daarvan oop te maak.
As die Lam wat geslag is, en deur Sy bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke stam, taal, volk en nasie.
As die Een wat waardig is om al die mag en rykdom, wysheid en krag, eer en heerlikheid en seën, te ontvang!

BID
Dat die Kerk die bloed van Jesus in al sy volheid sal toeëien, vir die vergiffenis, reiniging en loutering van sondes; vir regverdigmaking, heiligmaking en toewyding.
Dat die Kerk die Heilige God met ‘n skoon gewete sal dien; Satan en al sy mag sal oorwin, en deur die geskeurde voorhangsel (Jesus self) tot in die allerheiligste sal binnedring.
Dat die wêreld, wat uitmekaar geskeur word deur oorloë, onreg, korrupsie, onsedelikheid en demoniese eise vir bloed en offers, sal weet dat die bloed en opstanding van Jesus die wêreld, sonde, Satan en die eise van die vlees, oorwin het.

Lees en bepeins Openbaring 18 en 19.


Saterdag 7 Junie 2014

TIEN DAE VAN DAG EN NAG GEBED: Dag 10
Die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus!
Sy Majesteit, die Koning van die konings

Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. (Openbaring 19:11-16, AOV).

SOEK SY AANGESIG EN EER HOM
As die Woord van God, die Ruiter op die wit perd, die Aanvoerder van die leërmagte van die hemel, uit Wie se mond ‘n skerp twee-snydende swaard kom.
As die Een wat al die nasies met ‘n ysterstaaf sal regeer; voor Wie se Naam elke knie, in die hemel, op die aarde en onder die aarde, sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is!

BID
Dat die Kerk gewilliglik sal oorgee aan hulle Koning, deur hulle lewens neer te lê in die verkondiging van die boodskap van die Koninkryk van God aan alle volkere.
Dat die Kerk voorbereid en waaksaam sal wees, en die terugkeer van die Koning van die konings en die Here van die here, sal verhaas deur gebed, evangelisasie en regverdige dade van die gelowiges.
Dat die wêreld se leiers die waarskuwing aangaande die Seun van God sal hoor, en met wysheid sal reageer, Hom met eerbied sal dien; en eer bring aan die Seun sodat hulle nie vernietig sal word wanneer Sy wraak uitgestort word nie.

Lees en bepeins Openbaring 20,21 en 22.


Sondag 8 Junie 2014

Pinkster Sondag: Wêrelddag van Gebed (GDOP)

Tweeduisend jaar gelede, op Pinkster Sondag, is die Heilige Gees op die kerk uitgestort. Die kerk het egter dikwels geestelik gestagneer en begin om die werk van die Heilige Gees te weerstaan. God, in Sy genade, het die Gees telkens opnuut op die kerk uitgestort. Sommige van hierdie vars uitstortings van die Gees vind ons in Handelinge 4:29-31, Handelinge 10:44-47 en Handelinge 11:15. Martin Lloyd-Jones sê dat as ons die boek van Galasiërs en die gedeelte van die Skrif in 1 Korintiërs 12-14 noukeurig lees, dit duidelik is dat hierdie kerke ‘n buitengewone werk van die Heilige Gees in hulle midde beleef het.

Deur die eeue het geestelike doodsheid herhaaldelik die kerk magteloos en sonder geestelike vrug gelaat. Laat ons dan vandag bid vir ‘n buitengewone werk van die Gees van God in die kerk wêreldwyd. Sonder ‘n nuwe en kragtige werk van die Gees in die kerk, sal die kerk kragteloos gelaat word. Ons het God se Goddelike krag nodig om Sy werk te doen.