Liewe vriende,
Groete uit Marondera. Die groot onsekerheid oor ronde nommer een is verby en Zimbabwe gaan stem op 31 Julie. Die volgende onsekerheid is: waar gaan die uitslag bepaal word? By die stemlokale of by die stemtellokale?
Op voetsoolvlak is daar verskillende houdings waarneembaar: kom ons kry die ding agter die rug sodat ons kan aangaan met ons lewe. Nog een sê: ek sal stem soos ek wil en niemand gaan my voorskryf nie. Nog een is: enige iemand anders; net nie weer dieselfde gesigte nie. Die hartseerste is dat daar geen hoop of verwagtinge ander as persoonlike wense is ten opsigte van na 31 Julie nie.
Selfs die kerk is ingesleep by die stemwerwery. Daar is ‘n program deur die Kantoor van die President geloods waarvolgens munisipaliteite opdrag kry om erwe aan kerkleiers te gee teen 10% van die normale prys. Die visie-president besoek dan die munisipaliteite wat gereed is en oorhandig simbolies die eerste erwe. Die plaaslike predikantebyeenkoms wat elke maand plaasvind is aan die stuur van sake hier in Marondera. Ek kon nie anders as om te glimlag tydens ons laaste byeenkoms nie. Normaalweg is ons maar so 10 -12 predikante byeen en dit bly ‘n geweldige gesukkel om ledegeld uit die mense te kry. Die keer was ons 41 predikante teenwoordig met 11 verskonings en sommiges het sommer hulle hele jaar se ledegeld betaal. Predikante bly ook maar mense.
Vir iemand wat die Here ken, is hierdie ‘n tydperk om in rustigheid voort te gaan met die werk wat die Here hom gegee het. Ps 22:27-28 gee ons die rede daarvoor: “Alle volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoortaan die Here;Hy heers oor die volke.”
Oor hierdie rede is daar ‘n groeiende afwagting by ons oor die Augustusmaanduitreik ondangs die feit dat sekere aspekte nog nie in plek is nie. Ten spyte van hulle positiewe reaksie op ons versoek, is die Zim Bybelgenootskap baie traag om die nodige stukke beskikbaar te stel sodat ons kan probeer om Bybelgedeeltes in Shona te druk. Intussen probeer ons om toestemming te kry by ‘n ander instansie wat ook besig is met ‘n eie Shonavertaling.
Die polisie is ook so betrokke by die verkiesing dat niemand nou lus is om aandag te gee aan ons versoek om te evangeliseer in die omgewing van Wedza nie. Ek dink hulle kyk ook maar eers die kat uit die boom uit. So ons wag nog op ‘n antwoord.
Die Anglikaanse Kerk is egter heel opgewonde oor die uitreik en ek hoop om hulle plaaslike Direkteur van Evangelisasie volgende week te ontmoet. Ons gaan saam met hulle werk omdat die kerkgebou wat ons as basis wil gebruik, aan hulle behoort en die area soort van binne hulle invloedsfeer val. Gemeentelede en vriende wat saam met ons bid vir die uitreik en wil saamgaan sien ook uit daarna.
‘n Belangrike verandering is dat ons die tyd van die uitreik met ‘n week moes uitstel. Ons gaan dus nou vanaf 26 Augustus tot 1 September op die uitreik. Ek is baie dankbaar dat ons dit steeds sal kan voltooi voordat die Zimskole heropen.
Ek wil graag weer elkeen wat belangstel uitnooi om betrokke te raak op die manier wat vir hom/haar moontlik is. Eerste prys is natuurlik om self te kom en persoonlik deel te wees van die program. Ons gaan elke aand die Jesusfilm by ‘n ander groeipunt wys en mense evangeliseer. Die dagprogram sal eers gefinaliseer kan word wanneer ons weet watter hulpmiddels ons het en wat ons begroting gaan wees. Die slaap-, was- en kookgeriewe is uiters primitief en daar is nie krag of lopende water by die basis nie, maar wel ‘n lekker handpomp om water uit die boorgat te kry. Bo is ‘n foto van die kerkgebou op die basis.
Indien u nie self kan kom nie, weet verseker dat ons dit nie kan doen sonder u voorbidding en finansiële steun nie. Breedweg lyk ons begroting so (koers is tans so R9.79 = 1$) :
Kos (vir ‘n span van 20 mense vir 5 dae) USD 1000 = R9 790
Brandstof (vir drie voertuie) USD 500 = R4 895
Evangelisasiehulpmiddels (Bybelgedeeltes ingesluit) USD 1000 = R9 790
(Enigiets anders wat mense nodig mag kry moet hulle self saambring.) TOTAAL R24 475.
Die kerkplanting by Bemba Farms gaan voort. Bo is ‘n kaart van die uitreikomgewing. Ons is dankbaar vir die getuienisse wat ons van die mense hoor. Die leiersgroep se opleiding word getrou bygewoon en ons is besig om vordering te maak met die Nehemia Bybelinstituut se kursus wat ons gebruik.
Die groepie se bereidwilligheid om hulle nuutgevonde verhouding met Jesus uit te leef voor mense met wie hulle elke dag saamleef en –werk, is bemoedigend (en soms selfs beskamend). Baie moeite word gedoen om die byeenkomse gedurende die week en Sondae se eredienste by te woon.
Ons probeer nog om ‘n kursus in Sondagskool en Jeugwerk op die plaas aangebied kry, maar die fondse is nie op die oomblik beskikbaar nie.
Ons ry elke Woensdagaand die nou en moeilike pad na Bembe Farms. Dit word deur baie voertuie gebruik met dikwels onbedagsame bestuurders wat aanleiding kan gee tot noue ontkomings. So het ‘n voertuig nou die nag die bakkie se regterkantse spieëltjie getref, so naby het dit aan ons verbygekom. Dit het my weer laat besef hoe broos ons lewens is.
GEBEDSVERSOEKE:
- Bid asseblief vir Zimbabwe gedurende hierdie verkiesingstyd. Vra dat die Here mense tot die besef sal laat kom dat die woorde van Ps 22:27-28 waar is. Dat mense sal stem vir kandidate wat die Here eerste in hulle lewe stel en dan eers sal kyk na die party waarvoor die kanidaat staan. Mag dinge met hierdie verkiesing so gebeur dat die Here verheerlik sal word!
- Bid dat die mense op Bemba sal groei in getalle en geloof en dat hulle nie sal trap in strikke wat die duiwel vir hulle mag stel nie. Die nuwe lewe volgens Bybelse riglyne is nog vreemd en daar is nog talle geleenthede vir verwarring en kulturele oortuigings wat afgelê moet word.
- Bid vir die mense in die Igawa en Wedza omgewing dat die Here harte sal voorberei om positief te reageer op die hoor van die evangelie.
- Bid asb vir ons vir wysheid, kalmte en om gefokus te bly op die roeping van die Here veral in die dae voor die verkiesing.
- Dank Hom vir elkeen wat vir ons bid en ondersteun. Ons waardeer elke gebed, boodskap en bydrae. Julle liefde en ondersteuning maak dit vir ons moontlik om met vreugde die werk van die Here te kan doen.
BAIE DANKIE
Weer baie dankie vir almal wat ons so getrou bystaan in gebed en met finansies. Dit bly ‘n riem onder die hart om te weet daar is iemand wat jou onthou. Daarsonder kan ons eenvoudig net nie voortgaan nie.
Liefdegroete,
Jaco en Beulah de Bruyn.
Bankbesonderhede: Jaco de Bruyn, Standard Bank, Woodbridge Square, Takkode: 012442, Reknr. 626-752-159