(Sola Scriptura- Slegs die Woord)
Wanneer ek terugkyk na die nederige ontstaan en uitbreiding van hierdie Bybelkolleges, sien ek Psalm 4:4 in vervulling gaan: "Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir die wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na om roep."
Die Here het voorwaar wonders gedoen! Gedurende die +- 25 jaar as voltydse sendeling het die Here my oë geopen vir die ryp oeslande. (Johannes 4:35) Ek het besef dat ons nie 'n merk maak op die massas mense met oneindige verskille en tale en kultuur nie. Ons het besef dat die enigste uitweg is om die mense van Afrika op te lei, toe te rus en uit te stuur om hulle eie mense na Jesus te lei. Hulle wat die tale en kultuur van hul eie mense ken, kan meer effektief werk.
So het die Here God ons dan gelei en gewillig gemaak (Fil 2:13) om die eerste Bybelkollege te begin. Johnny Roux het die mooiste plek langs die Kaap rivier geskenk. (By Sheba op die Barberton Kaap Meiden pad) Januarie 1992 het ons begin met net 4 studente waarvan net 2 hul studies voltooi het. Vandag is daar elke jaar gemiddeld 160 studente.
Die tweede kampus in Malawi het Januarie 2002 afgeskop. Sedert 1998 het vriende uit Suid Afrika gedurende vakansies hierdie Bybelkollege gebou.
Die derde kampus, onder die Maasaivolk in Kenya het in groot Markee tente begin, Januarie 2005. Die studente moes doringtakke om hul tente pak om die hïennas weg te hou. Een van die ou Maasai manne het gese dat hy sewe jaar gebid het vir 'n Bybel college! Geen wonder dat hy een van die eerste student was wat ingeskryf het nie - ons God is groot!
Die vierde kampus, in Mosambiek, het in 2009 sy tentseile oopgespan, naby Catandica. Die twee groot markee tente is aangekoop en opgeslaan deur Johnny Raux en familie. Daar is tans studente van so ver as Nampula (meer as 1000km vanaf die kampus).
Ons is tans besig met 'n kampus in Tanzanie, naby Mlimba. Die lesingsaal moet eers gebou word voordat ons kan begin. 18 Studente en 2 dosente wag vir ons om die deure oop te gooi. Ons bid dat die Almagtige God mense sal stuur om die onvoltooide taak aan te pak en klaar te maak.
Ons loof die Here vir Gerhard en Heila van Heerden, sowel as Paul en Linda Botha wat onderskeidelik in staan vir Kenya en Mosambiek kampusse.
Malawi Kampus trek baie swaar. Deur die genade van die Here kon ons 73 studente vanaf Januarie tot Junie 2015 deurdra. 3 Augustus kom daar plus minus 15 nuwe studente. Met brandstof teen R22 per liter was ons genoodsaak om die naweek uitreik aksie te staak. Dit is 'n uiters belangrike deel van ons opleiding. Ons benodig R25 000 per maand om al hierdie studente te voed en voort te gaan om onbereikte mense met die Evangelie te bedien.
Die personeel wat in die verskillende bybelkolleges as dosente gebruik word, is almaI oud studente van die Malawi kollege. Hulle het die kennis en die passie van die moeder college, nl. om Afrika vir Christus te wen, in hulle hart en verstand opgeneem. Na drie jaar intensiewe studie van die Woord, kerkplanting en ander vakke ten voorbereiding vir die bediening, behoort hul die beste ambassadeurs te wees.
Sal jy nie ernstig bid en by ons Hemelse Vader hoor of jy nie moet help nie?! Evangelisasie en bouspanne word dringend benodig- bring sommer 'n paar kartonne vol Bybels saam.
Mag hierdie wonderverhaal jou oortuig dat dit God se program is om Afrika vir Christus te wen. Groete in Christus
Ds PJ Erasmus
NS:
Daar is nog Burundi, Noord-Oos Kenya, Botswana en die Tulbagh omgewing wat smeek vir soortgelyke kolleges! Kontak my asb Malawi: +265 9938 44236, vanaf 3 Augustus- 20 November. Ander kontakte: Francois Swart +2783 468 1015,Paul en Linda Botha +2782 410 5095,
Rekening nommer: 4078426111
Sola Scriptura Foundation
ABSA