Die Madagaskar uitreik gedurende die afgelope skoolvakansie in Jun-Jul was ‘n wonderlike geseënde uitreik! Twee volwasse en twee kinder klinieke is aangebied. Dus vier klinieke in totaal.
Baie dankie aan elkeen wat op een of ander manier daartoe bygedra het deur gebed, aanmoediging, boodskappe aan ons in Madagaskar, en finansies.
Dit is deur baie goeie studente bygewoon, wat werklik entoesiasties is om verder te gaan implimenteer wat ons aan hulle in die opleiding oorgedra het.
Dit is Evangelisasie-opleiding waar hulle geleer word hoe om voortdurend in hul eie omstandighede as GESTUURDES VAN DIE HERE die Evangelie uit te dra, en ook weer ander op te lei om die Evangelie (Goeie Nuus!) uit te dra. So is daar ‘n voort- durende vermenigvuldigingsproses van gelowiges wat uitgaan en evangelisasiewerk doen. Afgeleë gebiede word so bereik met evangeliste en Bybels!
Gedurende die opleiding by die Volwasse Klinieke gaan spanne uit om prakties die Evangelie te deel en die opleiding in te oefen. So het die spanne die Evangelie aan 147 persone aangebied! 69 Persone het oorgawes aan die Here gemaak! Van die res was daar verskeie wat se geloof versterk is, en dan was daar ook mense wat die Evangelie verwerp het. 9 Verskillende kerke is verteenwoordig.
By die Volwasse klinieke is 49 persone opgelei, waarvan 7 leraars was. By die Kinder klinieke is 46 studente opgelei, waarvan 2 leraars was. Ongeveer 60 kinders is bereik met die praktiese deel van die kinder klinieke. Ons is opgewonde daaroor dat die opleiding en uitreike sal voortgaan na die naburige gemeentes en dorpies, deur die persone wat deur ons opgelei is!
Daar is ook 440 Malgassiese Bybels verspei, asook 1500 traktaatjies! Bid dat dit ook sal grondvat en groei in die harte van die mense wat dit ontvang het!
Jarelange Betrokkenheid!
ONS GEMEENTE IS AL SEDERT 1998 BETROKKE BY UITREIKE IN MADAGASKAR!
Aangesien die Uitreiktaakgroep besluit het om ons as gemeente nou meer te fokus op Mosambiek, wil ons graag die vrug van die werk oor die jare 1998 tot 2013 met julle deel:
Deur die afgelope sestien jaar was die kerkraad, die Uitreik Taakgroep en verskeie gemeentelede betrokke by die uitreike, hetsy deur soontoe te gaan, Bybels en materiaal aan te skaf of deur gebedsondersteuning en finansiële ondersteuning te verskaf. In hierdie tydperk het die volgende kortliks gebeur:
- 28 Volwasse klinieke is aangebied.
- 938 Volwasse Christene is opgelei om die Evangelie uit te dra, en ander op te lei!
- 20 Kinderklinieke is aangebied.
- 526 Jeugleiers is opgelei om kinders met die Evangelie te begelei, en op te lei!
- 3207 Persone is bereik in die praktiese opleiding, waar die Evangelie aan hulle aangebied is.
- 6000 Malgassiese Bybels is gratis versprei, onder goeie toesig tydens opleiding en daarna.
- 27000 Traktaatjies is versprei.
Ons gemeente is aangeraak, gevorm en gehelp om nie geestelik selfgerig te lewe nie, maar om ’n verduideliking van die HOOP wat in ons lewe, die versoening met God, uit genade deur geloof in Jesus Christus, met ander te kan deel.
AAN GOD AL DIE EER!!!... dat ons gemeente oor die tydperk 1998 tot 2013 deel kon wees van SY wonderwerking in Madagaskar!!! Mag Hy deur sy Heilige Gees self sy vrug hierop gee...