Vrydagoggend vroeg het 9 van ons gemeente (Wallis, Lucinda, Henro, Larissa, Wian, Elané, Mirisa, Mari en dr. Nelius) en 6 van Queenswood die tog na Mosambiek aangepak. In Nelspruit het nog twee persone by ons aangesluit. Ons is so 13:00 deur die grens en het veilig net voor Sonsondergang by Volta a Biblia (Macia) aangekom. Daar is ons gasvry ontvang, het ons slaapplekke gekry, geëet, uitgepak, bokse Bybels afgegee, die volgende dag se werk beplan en gaan slaap.

Saterdag het ons gewerk dat ons so byna bars - stene opgelaai, aangery en afgelaai, sand en gruis gelaai en alles gereed gekry om Maandag te kan begin bou aan die ablusieblok van omtrent 7x10m. Saterdagmiddag het ons Bilene toe gery om die see (meer) te sien en die dapperes onder ons het selfs geswem! Ons het die aand met ’n Praise en Worship afgesluit na ete.

Sondagoggend vroeg vertrek ons na Chibuto (so 80km NW), waar ons ’n erediens bygewoon het in die IRM van Chibuto - in ’n kerkgebou wat deur oom Dirk Smit vir hulle opgerig is. Soos die gebruik is, moes een van die besoekende leraars preek en die lot het op dr. Nelius geval. Hy moes in Engels preek en dit is na Shangaan getolk. Die erediens sou 08:00, maar het eers 09:00 begin (die gaste moes eers tee en broodjies kry) en het tot 11:00 aangehou - heel normaal vir so ’n erediens! Na die erediens het ons saam met die leiers van die gemeente geëet en is toe Choegene en XAI-XAI toe, waar ons 4x4 gery, van duine afgespring en by die see uitgespan het.

Maandag tot Donderdag het ons eenstryk deur sement gemeng, gebou, yster-versterking gemaak vir die hele struktuur, ’n Franse Riool (French drain) gebou,   dakbalke geverf en opgesit, dakplate vasgeslaan asook pastor Calvin se huis twee lae met wit emalje uitgeverf. Ons het 07:00 ontbyt, 08:00 begin werk, 13:00-14:00 saam met die die studente en personeel middagete genuttig en dan vanaf 14:00 weer gewerk tot donker (17:30/18:00). Na stort het ons aandete geniet (19:00) met   ’n spyskaart wat Wallis voorberei het en daarna Bybelstudie gehou uit Sagaria vir ’n   uur of twee, saam met ds. Willem Nel hulle - ds. Willem Boshoff het dit gelei.

Vrydagoggend het ons alles opgeruim en kon ons die middag by Bilene meer gaan ontspan en eet. Die aand het ons afgesluit en gedeeltelik gepak om vroeg die volgende oggend te kon terugkeer na Suid-Afrika. 18:00 op Saterdagaand 13 Julie was ons tuis met seer lywe en spiere, stukkende hande en ’n verrykte gees.

Soontoe en terug het ons die heerlike geleentheid gehad om Bybels uit te deel en met ander en mekaar oor die Evangelie te kon praat en ook met mekaar te deel. Dankie, aan elkeen wat dit vir ons moontlik gemaak het om te gaan.

Wat ’n voorreg om deel te kan wees hiervan! Bid dat die Here self ook vrug op hierdie uitreik en ons betrokkenheid by Macia sedert 1997 sal gee!