DIE GIDEONS INTERNASIONAAL IN SUID-AFRIKA
Die Gideons se enigste grondwetlike doelstelling is om andere vir Christus te wen.
Geskiedenis
Gedurende die herfs van 1898 oornag John Nicholson van Janesville, Wisconsin by die Central Hotel in Boscobel, Wisconsin. Die hotel is stampvol, die personeel versoek hom om ‘n dubbelkamer met Samuel Hill van Beloit, Wisconsin te deel. As twaalfjarige seun het John Nicholson sy sterwende moeder belowe dat hy elke dag sy Bybel sou lees en bid. Toe hy, soos dit al jare lank sy gewoonte was, sy Bybel neem om te lees voordat hy gaan slaap, ontdek die twee mans dat hulle albei Christene is. Hulle hou saam aandgodsdiens en daar, op hul knieë voor God, onstaan die gedagte wat later tot die stigting van die Gideon-beweging sou lei.
Op 31 Mei 1899 kom hulle by die Beaver Dam, Wisconsin, byeen. Hulle besluit om Christenhandelsreisigers te verenig met die oog op onderlike erkenning, persoonlike evangelisasie en gesamentlike diens aan die Here. Hulle reël ‘n vergadering vir 1 Julie 1899 te Janesville.
Net drie mans daag op: John Nicholson, Samuel Hill en Will Knights. Hulle kies Hill as president, Knights as vise-president en Nicholson as sekretaris tesourier. Na spesiale gebed dat die Here hulle moet lei om die regte naam te kies, staan Knights van sy knieë af op en sê: “Ons sal Gideons genoem word”. Hy lees Rigters ses en sewe voor as motivering.
Gideon was ‘n man wat gewillig was om presies te doen wat God van hom verlang het, ongeag sy eie oordeel omtrent die planne en gevolge. Nederigheid, geloof en gehoorsaamheid is sy belangrikste karaktertrekke. Dit is die standaard wat Die Gideons by al sy lede wil vestig. Elkeen moet bereid wees om God se wil te enige tyd, enige plek en op enige wyse, onder leiding van die Heilige Gees te doen.
Aangesien baie van die Gideons in die vroeë jare sakemanne was wat dikwels gereis het, het die vraag onstaan hoe hulle meer effektiewe getuies kon wees in die hotelle waar hulle genoodsaak was om so baie van hulle tyd deur te bring. Een voorstel was dat ‘n Bybel moontlik by die ontvangstoonbank van elke hotel geplaas kon word waar gaste dit sou kon leen as hulle daaruit sou wou lees. Dié Bybel sou ook ‘n stille getuie wees wanneer hulle elders op reis was.
Tydens ‘n vergadering op 19 Oktober 1907 word voorgestel dat die Gideons ‘n Bybel in elke hotelkamer plaas. “Dit sal nie alleen die werksaamhede van ons lede stimuleer nie, maar ook ‘n liefdeshandeling wees, in ooreenstemming met die heilige roeping van die Gideonvereniging”.
Die gebruik dat kerke tot die Bybelfonds van die Gideons bydra het sy oorsprong by ‘n leraar. Tydens ‘n byeenkoms van die Ministerial Union in 1908 stel dr E.R.Burkhalter van die First Presbyterian Church, voor
“that Gideon Bibles be placed in all local hotels and that the union be responsible for the funds”. Die gedagte dat die Gideonbediening ‘n verlengde arm van die kerk is, is nie nuut nie. Die kerk het byna honderd jaar gelede self besluit om die Bybelplasingprogram finansieël te onder steun. Ons loof God vir die openbaring van Sy plan waarvoor die plaaslike kerk die nodige fondse verskaf.
Die eerste 25 Bybels is in November 1908 in die Superior Hotel in Iron Mountain, Montana, VSA
geplaas.
Sedertdien brei die Bybelbediening soos volg na ander vespreidingsgebiede uit:
1916: Die eerste Bybels word in hospitale geplaas
1937: ‘n Bybel op die tafel van elke onderwyser in elke klaskamer
1941: Bybels aan weermaglede, verpleegsters in die weermag en burgerlike verpleegsters
1946: Die uitbodiging om Bybels aan skoliere aan te bied word aangegryp
1958: Bybels word in die wagkamers van geneeshere en tandartse geplaas
1972: Bybels word aan kollege- en universiteit beskikbaar gestel
2001: Bybels word in die wagkamers van prokureurs geplaas
Die Gideons is aktief in 194 lande.
Bybels word in 89 veskillende tale gedruk.
In Suid-Afrika die Gideons verlede jaar 1,3 miljoen Bybels geplaas, in total al 34.5 miljoen.
Wêreldwyd het die Gideons verlede jaar 79 miljoen Bybels geplaas en in totaal al 1 800 miljoen.
Bybelplasings
Wonderboom gemeente val binne die grense van die Wonderboomlaer van die Gideons. Dié laer se grense Strek vanaf Boomstraat in die stad tot by Lehau in die noorde, ‘n paar kilometersuid van Warmbad, en vanaf Die Rust de Winterdam in die ooste tot by Swartbooistad in die weste. Ongeveer 3 500 vierkante kilometer.
Ons besoek elke jaar 31 skole in Hammanskraal, Makapanstad en Swartbooistad. Ons oorhandig Bybels aan bykans 10 000 graad leerders in hierdie skole.
Afgesien van die skole besoek ons ook die hoërskole Langenhoven, Overkruin en Montana, Hillview High School, Iona Convent, Prospectus Novusskool, Curro Privaatskool, die Thuto Bophelo Nursing Academy, die Militêre Basisse Wonderboom en Boekenhoutkloof en die Eugene Marais en Montana hospitale.
‘n Getuienis
Daar word bereken dat die lewensduur van een van die Bybels wat die Gideons in hospitale en hotelle/gastehuise plaas gemiddeld sewe jaar is
As ons aanvaar dat ‘n persoon gemiddeld twee dae in ‘n hotel/gastehuis bly en ‘n pasiënt gemiddeld twee dae in die hospitaal bly dan konfronteer die Heilige Gees 15 persone per maand met die Woord van God in sy/haar onmiddellike omgewing. In ‘n jaar is dit 180 persone en oor sewe jaar is dit 1 260 persone. As ons klein gelowige is en aanvaar dat slegs 1% van hierdie mense die Here Jesus as hulle persoonlike Verlosser en Saligmaker aanneem dan lei elke Bybel wat die Gideons plaas minstes 12 siele die Here.
Die Gideons plaas een van hierdie Bybels by die Hart Hospitaal
Een van die pasiënte gryp dit dadelik en hou dit by hom
‘n Rukkie later versoek die personeel van die hospitaal dat ons dié Bybel met ‘n nuwe moet vervang
Toe ons die Bybel ontvang het was daar ‘n hele klomp los notas met verwysings na tekse en teks-gedeeltes in.
Omdat ek bang was dat dit verlore sou gaan het ek al die verse onderstreep.
Daar was 1 542 verse.
Baie van die verse is verse wat u en ek ook in ons Bybels onderstreep het.
Die volgende het opgeval.
Ps 31:10-13. Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my. My lewe vergaan van kommer en my jare van swaar kry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit. Ek is die spot van al my teëstanders, veral van my bure, ‘n verskrikking vir al my bekendes. Die wat my op straat sien vlug vir my. Ek is vergeet soos iemand wat al lankal dood is, ek het soos ‘n ding geword wat lê en vergaan.
Ps 31:15-16. Maar ek vertrou op U, Here, ek sê. U is my God. My tye is in u hand.
Ps 42:12. Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God!
Ps 62:10. Mense is verganklik, mense is niks: op ‘n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks.
Daar is ook ‘n gebed in die Bybel wat die pasiënt self geskryf het:
“Hemelse Vader, U weet dat ek op die oomblik my hoop verloor het. Dat ek die dinge wat u oor my pad stuur nie kan verstaan of hanteer nie. Help my om nogtans in U te bly glo en op U te bly hoop, omdat ek weet dat U my ook weer uitkoms sal gee. Amen”
Hierdie pasiënt is ‘n week nadat ons die Bybel by die hospitaal geplaas het oorlede
Die lewensduur van hierdie Bybel was net een week maar daar is vreugde in die Hemel oor een siel
Bid saam met ons dat die Heilige Gees God se Woord sal opdwing aan die gas in die hotel/gastehuis en aan die pasiënt in die hospitaal.
Sonder u gebede is enige donasie waardeloos en versprei ons net ‘n bondel papier met ink daarop
Die Here seën u!