Liewe Vriende & Familie
"As Christians we all are cross-cultural. We live in this world, but are only sojourners, for our citizenship really is in heaven" (Akiko Kugita)
Hierdie waarheid het my kop besig gehou die laasste paar maaande. Ons het die jaar weggespring met 'n nuwe groep van 11 studente op die kerklike werker kursus. Helfte van hulle was ongeletterd. Meesste van hulle het nog nooit die mees basiese Bybelstories gehoor nie. Almal van hulle moes groot aanpassings maak in hulle lewens om Christus getrou te volg in 'n nuwe hemelse kultuur, selfs al bly hulle leef in die plaaslike kultuur. Sommige het die waarheid aangegryp met 'n nuwe manier van leef. Ander het nuutheid probeer na-aap terwyl hulle maar bly voortleef het op die ou manier. Veel van hulle het baie genade ontvang, ander benodig steeds baie… Bid asb. vir Artemisa vir bekering en 'n nuwe lewe. Bid vir Flora dat die Here haar sal vrymaak van die slawerny wat haar verhoed om Bybelse waarheid te verstaan. Bid vir Samuel vir die genade om uit te leef dit wat hy bely.
Terwyl ek met die studente deur Mateus evangelie gewerk het, is ek opnuut weer getref deur die ander- wereldsheid in karakter wat die Evangelie wil werk in 'n dissipel van Jesus se lewe. Ons is verseker trans-kultureel in ons wese – selfs voordat ons ons huis verlaat. Bid vir Francisco en Armando spesiaal terwyl hulle stoei met verstaan en implementering van Bybelse karakter in hulle lewens.
Gedurende Mei maand kon ons 'n paar kerke in SA besoek, ons voertuig 'n slag herstel en het ek die voorreg gehad om Pinkster in my tuis gemeente te lei. Ek kon met hulle sommige van die Bybelse waarhede rondom bekering en verlossing deel wat die here so hardop ons harte druk hier by die skool. Ons is dankbaar vir die lekker kuiers en die bemoediging wat ons van vriende en mede-gelowiges ontvang het.
Gedurende Junie het die Here vir ons deure oopgemaak om ons studente op 'n sending toer te vat na 'n onbereikte, animistiese Moslem groep in Noord Mosambiek. Wat 'n vreugde! Ons het tuisgegaan by plaaslike families, moes leer Makua praat en kon by baie families van verskillende gelowe kuier. Ek het die krag van die liggaam van Christus in aksie onderskat! Die handjie vol plaaslike Christene was regtig bemoedig deur hierdie ontmoeting met Christene uit die Suide van Mosambiek (hulle was vyande gedurende die burgeroorlog). Skielik het dit die wete gebring dat die Evangelie van Jesus is vir ons almal en nie slegs 'n wit man se geloof nie. Ek is meer oortuig as ooit tevore dat die plaaslike kerk in Mosambiek die sleutel dra vir die uitbreiding van die Koninkryk in Mosambiek. 'n Groot dankie aan almal wat die uitreik moontlik gemaak het – van die wat die ou Landrover help regmaak het, tot die wat gehelp het met brandstof geld tot die wat getrou vir ons gebid het. Dit was meer as die moeite werd!
'n Groot dankie aan elkeen wat getrou vir ons gebid het gedurende hierdie eerste 6 mmande van stilte. Ons wou dikwels 'n kort gebedsbriefie uitstuur, maar die volgende uitdaging was op ons voor ons daarby kon uitkom.
Bly asb. bid vir ons personeel: Fisiese gesondheid en familie verhoudings bly die 2 kristiese areas wat goed moet wees vir iemand om sy werk goed te doen. Ps. Calvin gaan deur Openbaring werk met die studente gedurende die volgende maand. Bid dat sy gesondheid sal hou en dat sy vrou hom sal ondersteun. Jonas is in sy grootste familie krisis nog. Hy het van die sendingtoer teruggekom soos Elija van die berg af, net om te ontdek dat in sy afwesigheid sy familie uitmekaargeruk is. Aan die wortel van die moeilikheid lê die noodsaak van Christenskap om 'n ou kultuur en sy manier van doen te vervang. Bid dat die Here hom sal staande hou. Bid ook vir genade om op God te wag in die ontknoping van die krisis. Bid vir bekering in sy vrou. (Sy het die huis verlaat om na 'n toordokter te gaan vir hulp met die hulp van haar familie) 1Petrus 1:18-19 praat van losgekoop wees van 'n oorgeerfde sinlose bestaan deur die kosbare bloed van Jesus. Bid dat dit 'n werklikheid sal word.
Bid dat God leiers na Sy hart sal oprig in Sy kerk. Ons word baie moedeloos wanneer ons hoor dat kerkleiers van Evangeliese kerke steeds op geesste en toordokters vertrou ten spyte van wat hulle bely. Die kinders van God moet vreemdelinge in die wereld wees (1Pet.2:11) – vreemdelinge vir die paaie en maniere van die wereld om aan Christus hulle Verlosser getrou te wees.
Met baie liefde
Willem & Carol