Die pdf weergawe van hierdie gebedsbrief bevat foto's. (KLIEK HIER) om dit af te laai.
Liewe Familie & Vriende
Mat.21:28-32 Gesoek: Kinders van die Here wat "ja" doen mense is, wat gehoorsaam doen wat hulle Vader wil hê en nie net "ja" sê mense is nie! Dis dalk die eerste verskil tussen 'n dissipel van Jesus en net 'n goeie kerk lidmaat wees…
Hoe leer mens dit vir studente by 'n Bybelskool? Dis waarmee ons geworstel het in ons tyd van gebed en toewyding aan die begin van hierdie jaar. Ons slotsom was: Net "ja doen" mense kan ander leer om dieselfde te doen. So ons het biddend lysies gemaak van mense om voor te bid en teenoor wie ons wil getuig – ten minste 5 mense per week! En kom ons toe agter dat ons so gewoond geraak het aan "ja" sê en nie "ja" doen nie, dat dit ons nogal uit ons gemaksones lig! Skielik is ons weer mense van die "Weg", want dit kos "gaan" om by verlorenes uit te kom.
Dalk het ons te veel daarmee gesukkel, want verlede Woensdag bring 'n watervloed in Chokwe toe 200+ mense na ons toe! Dinsdag is ek Chokwe toe om van ons personeel en hulle families te gaan haal voor die vloed. Maar dit was soos in die dae van Noag toe almal doodgewoon met hulle lewens aangegaan het – tot die vloedwaters gekom het! Dinsdag nag kon ek nog 'n laasste klomp gaan uithaal voor die water kom. In die donker het almal skielik begin bang word en beweeg. Pastor Calvin en Mateus se families het teen dagbreek by die Bybelskool aangekom (25+ mense en hulle goed!)
Deur die dag met meer mense aangekom en skielik kon ons ons eetsaal volmaak net met kindertjies, ons voorskoolse klassie het 'n klas geword en elke gaatjie het mense in! Skielik word ons maandelikse kosuitgawes elke 2de dag sin!
Na 'n totale stilte die eerste paar dae na die vloed, het vriende begin hand bysit om ons in staat te stel om kos aan te koop – waarvoor ons oneindig dankbaar is.
Ons probeer so goed ons kan voortgaan met ons normale klasse, maar die omstandighede bring maar sy uitdagings: Soos om vir 200 mense elke dag iets op die tafel te sit en om ander te help om hulle goedjies nou uit die modder te gaan haal.
Met ons lofprysings geleentheid gister was dit aangrypend om soveel "vlugtelinge" te hoor dankie sê aan die Here vir Sy sorg en goedheid oor hulle.
Twee sendeling vriende wat baie skade gely het, is Sybil Baloi en Pieter Ernst. Sybil se voorskool het nie net onder vloedwater deurgeloop nie, maar ook onder vandale. Bid vir baie bemoediging vir hulle albei in die tyd. Feitlik alles is uit haar skooltjie gesteel na die vloed – al die stoeltjies en speelgoed – selfs die deure!
Pieter het baie skade in sy kantoor gelei. Alles is daar ook geplunder.
Bid saam met ons…
1. Vir bemoediging vir almal wie se lewens ernstig ontwrig is (en wat hulle goed onder baie stink modder moet uithaal)
2. Vir die Here se voorsiening in elke behoefte – op Sy manier (Met danksegging vir wat Hy reeds voorsien het)
3. Vir ons studente en die klasse en die geleenthede wat saam met die ontwrigtings kom, dat elkeen die beste gebruik sal maak van elke geleentheid om te getuig.
4. Vir ons eie voorbeeld in dissipels wees wat vir Jesus volg en vissers van mense is sodat ons
studente ons voorbeeld kan navolg.
5. Vir Alegria (vreugde), 'n jong vroutjie wat hier is vir die 3 maande kursus wat baie sukkel. Dit mag n geestelike blokkasie wees. Bid dat sy vrygemaak sal word om die Woord te verstaan sodat sy gered kan word
6. Vir Pedro & Gilda wat deur hulle gemeenskap gestuur is (waar daar geen kerk is nie) om meervan die Here te leer sodat hulle kan teruggaan om ander te help. Bid vir hulle redding en verstaan van die Evangelie.
7. Vir Willem & Carol se klasvoorbereiding. Willem moet Kolossense aanbied die volgende 2 weke en Carol moet regmaak vir 'n Administrasie en finansies kursus.
8. Vir Rom.8:28: Dat God alles ten goede sal laat meewerk vir die wat Hom liefhet.
Liefdegroete
Willem & Carol
Inligting: Ons SA bankrekening vir die Bybelskool het 'n naamsverandering ondergaan as deelvan 'n registrasie proses as 'n nie-winsgewende maatskappy. Die rekening nommer het egter dieselfde gebly. Die nuwe naam is: VaB Training Centre. Die res van die detail bly dieselfe: ABSA Nelspruit, tjek rek, 4049 298 222.
Die Nel bankbesonderhede bly dieselfde. Willem Nel, ABSA Hatfield, spaar, 214 8580 599