Ons SIM direkteur, Janice Peters, hier in Mosambiek, het na baie jare se troue diens besluit om uit haar pos te bedank. Alfred is as haar opvolger aangewys en sal die 15de Maart as nuwe spanleier intree. Sy termyn is vir 5 jaar.

 

Bid asb vir hom – die volgende paar jaar gaan baie besig wees! Hy is steeds volstoom aan die gang met Yao studies en hoop om volgende jaar die Evangelie aan die mense hier te bring in Yao. Dus het hy ’n dubbele porsie van gebed nodig - as spanleier en vir die werk hier in die bos.

 

Buiten al die nuwe werk wat bykom, sal hy dalk so nou en dan moet reis om spanlede te besoek of vergaderings bywoon in SA namens SIM Mosambiek. Ons sal ook plan moet maak om ons internet te verbeter. Dis ’n voorreg maar ook ’n groot werk! Dankie vir jul volgehoue gebede.

 

 

Ou en nuwe bestuur saam met ons Suidelike Afrika SIM direkteur.

 

Ander nuus hier uit die bos is dat die mense regtig swaar kry die jaar – meeste het nie eens elke dag kos nie! Die wat van êrens af geld kan kry moet astronomiese bedrae betaal vir mielies! ’n 400% verhoging oor 3 maande! Daar was ook die jaar ’n tipe gogga wat baie van die gestoorde mielies opgevreet het! Ons help waar ons kan, maar ons vra tog vir gebed! Dat ons met wysheid projekte sal aanpak. Ons wil nie die mense afhanklik maak van ons nie. Iets wat wel uitgekom het, is dat niemand verwag om net verniet kos te kry nie.

 

 

Mense kom hier aanklop vir hulp wat iets kan lewer – soos gister was hier 2 houtkappers wat sal planke bring. Hulle was so desperaat om kos vir hulle gesinne op een of ander manier in die hande te kry dat hulle bereid was om met baie min tot geen kos hard in die veld te gaan werk om planke met die hand te saag. Vir ons is dit nie aldag maklik om die mense om ons so te sien swaarkry nie en nie te weet hoe om sinvol te help nie, maar ons glo die Here gee wysheid vir die wat wysheid nodig het!! Bid saam met ons hieroor asb!

 

Ons dink daaraan om by die skool kos uit te deel – die kinders is baie weerloos op die oomblik. Ons het nog nooit so iets aangepak nie – bid asb ook hiervoor! Dat God se koninkryk sal vergroot ook hierdeur. Jesus het 5000+ mense kos gegee sonder probleme – Hy kan dit ook hier doen! :)

 

Ons wil ook kyk na ’n interim oes om die mense deur die tyd van hongersnood te help volgende jaar (die oeste lyk nie goed op die oomblik nie en ons vrees meer hongerte volgende jaar!) As iemand dalk wil kom help of raad gee sal ons dit baie waardeer!

 

Nou ja dis ’n redelike gelaaide epos die! Dankie vir jul gebede!

 

Alfred en Belinda en seuns.

 

Tel in Moz: 00258 2694 0016
Sel in Moz: 00258 82 729 5687
Alfred.Paetzold@sim.org