Laai die .pdf weergawe met foto's af.
SPESIALE UITREIKVERSLAG
Liewe vriende,
Daar sal seker altyd gewonder word oor die verhouding opoffering/koste teenoor uitwerking/resultate van korttermynuitreike. Waar ons so pas so ‘n uitreik beplan en afgehandel het, is dieselfde vrae steeds daar. Die antwoorde sal verskil na gelang van wat ‘n mens se doelwitte met sodanige uitreike is.
Syfergewys lyk dinge so. Die Jesusfilm is vir vyf aande telkens op ‘n ander plek gewys en ongeveer 1 000 mense in totaal het dit gesien. Gedurende die vyf aande het 34 mense na vore gekom om hulle lewe aan Jesus oor te gee.
Diegene is elkeen die volgende dag opgevolg en weer aan hulle verduidelik wat die implikasies van hulle keuse is. Hierdie opvolg was nogal ‘n uitdaging omdat die mense gesoek en soms ingewag moes word totdat hulle uit die veld terugkeer.
Ons het doelbewus nie geskenke (Bybels) gegee aan mense wat na vore gekom het nie. Literatuur is uitgedeel soos die mense gearriveer het waar ons die film sou wys.
Die omgewing: Ons het vyf “krale” (dit is die woord wat hulleself gebruik) bereik wat elkeen ongeveer 2 tot 3 kilometer van mekaar geleë was. In so ‘n “kraal” woon daar tussen 75 en 100 gesinne met ‘n “kraal chief” en komitee om orde te handhaaf.
Die krale wat ons besoek het, het ontstaan toe mense, met net die klere aan hulle lyf, iewers in die veld van ‘n vragmotor afgelaai is met die opdrag: “Dis julle nuwe blyplek. Sien kom klaar!” Wat op die foto’s te siene is, moes hulle self, met die bietjie ondersteuning van vriende en familie, ontwikkel. Die mense is goed geïndoktrineer en was glad nie geneë dat ons fotos neem nie.
Ons het saam met die Anglikaanse Kerk gewerk omdat hulle reeds daar ‘n invloed het. Die Sondag met die erediens is die plaaslike leraar gevra om die mense wat na vore gekom het, verder op te volg en in te skakel by die bestaande gemeente.
- Sorg dat die spanlede goed en genoeg eet. Die mense is buite hulle gemaksone en ‘n lekker ete help om die moraal hoog te hou.
- Dit geld ook vir die geestelike sy. ‘n Goed voorbereide Bybelstudie, wat ook ‘n boodskap help gee vir diegene waarmee gepraat gaan word die dag, is noodsaaklik.
- Maak seker dat die “chief” en sy mense weet dat die uitreikspan kom en wat hulle kom doen.
- Stel die daaglikse roetine en besluitnemingsvlakke van die mense na wie toe uitgereik word, voor die tyd vas.
- Stel vas watter tyd van die jaar is die beste om op ‘n uitreik te gaan na ‘n spesifieke plek. Bv. tabak-, katoen- en mielieboere se oestye verskil.
- Kommunikasie is mondelings, maak daarom ruimte vir misverstande en wees bereid om planne op kort kennisgewing te verander.
- Die materiële nood is altyd groter as die materiële hulp wat die span kan aanbied. Begroot vooraf wat en hoeveel kan vir wie gegee word.
- Aanvaar dat wanneer iets uitgedeel gaan word daar altyd mense in die tou sal wees wat nie daar hoort nie en dat daar mense sal wees wat in die tou hoort maar nie daar is nie.
- Oorhandigings, veral aan diegene wat onder op die sosiale leer staan, (bv. weduwees en weeskinders) word ten aanskoue van almal gedoen. Dit voorkom latere ongemaklike vrae aan en jaloesie teenoor die ontvangers.
10. Tussen die ouderdom 16 tot 26 jaar beweeg seuns en jongmanne in groepe. Individualiste word vinnig uitgestoot. Werkloosheid dra ook by tot hierdie verskynsel. Om hierdie ouderdom seuns en mans te bereik, is sport-evangelisasie onontbeerlik. Tydens ons besoeke by die hutte het ons hulle feitlik glad nie gesien nie, maar toe ons Saterdagmiddag ‘n sokkertoernooi organiseer, daag hulle in hulle tientalle op.
Die evangelie sal vir die groep aangebied moet word as iets wat krag, uithouvermoë, intelligensie en moed vereis. Die oorwinning oor ‘n versoeking sal luidkeels aangekondig en gevier moet word: “Ek het nie gisteraand my jonger broertjie afgeknou nie!!” “Ek het nie aangedik by my storie oor ons besoek aan die stad nie!!”
Korttermynuitreike se waarde lê in die mate waarin dit die werk wat reeds daar gedoen word ondersteun. In krale, soos dié waarin ons gewerk het, is blywende verandering net moontlik indien daar iemand is wat die nodige kennis het en wat langtermyn daar bly. Paulus se drie jaar verblyf in Efese is ‘n goeie voorbeeld.
Ons het teruggekom met die oortuiging dat die werk vrug sal dra wat by die bekering sal pas. Ons is dankbaar vir die geleentheid wat ons gehad het om op ons beskeie manier in die area mee te werk aan die koms van die koninkryk van Jesus Christus. Graag sê ons baie dankie aan elkeen wat ons gehelp het om die uitreik te kon doen. Mag die Here ook vir julle die seën, wat ons en sommiges naby Wedza ervaar het, in julle lewens oopbreek.