Daar is ‘n verskil tussen versoekings en beproewings.
In die Nuwe Testament word dieselfde Griekse woord vir albei gebruik.
Jakobus 1:2 sê;
“My broers, julle moet baie bly wees wanneer
allerhande beproewings oor julle kom.”
Maar in Matteus 26 vers 41 sê Jesus
dat sy dissipels moet bid dat hulle nie in versoeking kom nie.
Beproewings is volgens Jakobus ten goede,
en versoekings is volgens Jesus ‘n gevaar wat vermy moet word.

Versoeking sê jy moet hierdie aangename ding doen,
en nie bekommer dat dit verkeerd is nie.

Beproewing sê jy moet hierdie goeie en eerbare ding doen,
en moenie dit vermy omdat dit ongemaklik of seer kan wees nie.

Elke moeilikheid wat oor ons pad kom,
het die potensiaal om of ‘n versoeking, en/of ‘n beproewing, te wees.
Ons moet verkeerde opsies wat by ons opkom weerstaan,
en aan die ander kant geleenthede vir groei en heiligmaking aangryp.

Ons moet ontvanklik wees vir die Heilige Gees,
wat ons hierin laat onderskei tussen versoeking en beproewing.
So beweeg ons deur versoekings en beproewings,
na die volle geestelike rypheid waarvan Jakobus in 1:4 praat.

Versoekings wil jou neervel.
Beproewings wil jou optel.

Ernest