Kliek hier om die volledige nuusbrief (met foto's) af te laai.


Liewe vriende,

Baie dankie aan ‘n ieder en elk wat ons deur 2013 bygestaan het met gebed en finansies en op soveel ander maniere. Ons dank die Here vir elkeen van julle en wens julle die Here se beste toe gedurende die Feesseisoen en 2014.

Die jaar 2013 het sy hoogte- en laagtepunte gehad soos elke ander jaar. Die grafiek van “saam-met-die-Here-oppad-wees” Is een van op en af, maar die lyn van gemiddeldes bly voortdurend styg. Dit was ook ‘n jaar wat uitgewys het dat “almal begin goed, maar net kampioene eindig goed.”

Dit was ‘n jaar waartydens ons beide kante beleef het, soos Klg. 3:16 sê: Die Here het my gruisklip laat kou, maar ook in v 21 en 22 is die deurleefde waarheid: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.

Die gemeenteprogram het sommer op twee hoë note afgesluit met die mans en vrouens se onderskeie konferensies. Daar was oomblikke van dankbaarheid en vreugde oor wat die Here die afgelope jaar vir die gemeente gedoen het. Daar was ook oomblikke van hernude toewyding aan die Here en sy koninkrykswerk. ‘n Gees van opgewondenheid, afwagting en entoesiasme het hom kom vestig in die gemeente. Manne en vroue wat passief was, het hulle weer kom verbind tot betrokkenheid en hulle bereid verklaar om aktief te wees in die volgende jaar se programme. Gebedsgroepe het spontaan tot stand gekom.

Tydens die mans se konferensie, het die Here duidelik met ons gepraat oor geestelike groei: dat dit dissipline, opoffering en betrokkenheid vereis. Ons het ‘n figuurlike pen ingeslaan waaraan ons die maatband vasgemaak het, sodat ons oor ‘n tydperk (paar maande, ‘n jaar) kan meet hoe ver ons gevorder het.

Ons het die Sondagoggend vroeg gaan uitreik na ‘n plaas se werkerswooneenheid en twaalf manne het navore gekom om hulle harte vir die Here te gee. Dit was aangrypend om te sien hoe verhoudings gebou word toe elkeen van die manne ‘n gebedsvernoot ontmoet wat die pad saam met hom sal loop. Die uitdaging vir 2014 is om kontak te behou en die nuwe Christene se geloof op te bou. Dit het begin toe vier van hulle die diens later die oggend by die konferensie kom bywoon het.

Wat my ook sal bybly, was die oomblikke toe van die gebedsvennote hulle eie Bybels aan die nuwelinge gee en verduidelik hoe die Bybel saamgestel is en gelees moet word.

2013 was ook die jaar van ons uitreik na Idapi en omstreke. Ook hier was die Here getrou en het Hy vir ons deure oopgemaak, ondanks die heersende ongemak teenoor vreemdelinge. Die mense is vriendelik en toegeneë, maar daar is altyd die vrees van wat die menere met die swart bakkies en getinte vensters met hulle lyfwagte en jeugbendes sal sê. Dit is die ouens wat die hoofman se toelaag beheer en baie maklik ‘n huis sal afbrand of ‘n bees sal doodskiet om hulle punt te maak.

Nie alle werk word altyd met sukses afgehandel nie. Ons Sondagskool-projek het ook sy einde bereik met een gemeente waar die onderwysers self voortgaan, maar twee gemeentes se onderwysers het nie kans gesien vir die dissipline en toewyding wat dit vereis nie.

My en Vroulief se betrokkenheid by onderskeidelik St Cyprian Laerskool en Kukura neshungu Inrigting, het ook kosbare oomblikke opgelewer. Kukura het onder die aandag van die Provinsiale Goewerneur gekom en hy werk daaraan om tien hektaar grond aan Kukura te skenk wat hulle dan moet ontwikkel. By St Cyprian is die biblioteek en rekenaarkamer (met vier rekenaars) voltooi en moet ons nou ‘n sisteem ontwikkel om dit ten beste te benut. Ons is nog opsoek na moderne Engelse opvoedkundige storieboeke (bestaan daar so iets?) en ‘n leerplan om jong kinders rekenaarvaardig te maak. Nie een van die onderwysers by die laerskool is rekenaargeletterd nie en ons kan nie ‘n rekenaaronderwyser bekostig nie. Enige hulp in die verband sal baie welkom wees.

Die land se ekonomiese, opvoedkundige, mediese en sosiaal-maatskaplike toestande is baie swak en versleg steeds. Reeds is die tekens van ‘n kontanttekort duidelik sigbaar. Lang toue by die banke en geen kontant by die autotellers beskikbaar nie. Ongelukkig het die mense nog nie van die gebeure tydens 2007/8 vergeet nie en elke keer wanneer hulle so moet toustaan, is die opmerkings maar negatief.

Die kerk in Zimbabwe sal sy pad moet vind in ‘n samelewing waar die mense wat geld en mag beheer minder en ryker word en diegene wat arm is net meer en armer word. Ek het verlede week vir die gemeente se gebedsgroep gevra dat hulle moet bid vir wysheid en insig sodat ons van die Here kan hoor wie, waarmee en wanneer ons in die gemeenskap kan help. Die nood sal altyd die beskikbare middele oorskry. Wat ‘n wonderlike gawe het Jesus gehad om te weet wie wat op daardie oomblik nodig het! Mag Hy vir ons ook die gawe gee.

Gebedsversoeke:

  • Dank die Here vir al die groot en klein dingetjies wat ons die afgelope jaar deur sy genade kon vermag. Maak nie saak wat die omstandighede is nie. Hy maak seker dat sy koninkrykswerk voortgaan.
  • Hou asseblief aan bid vir ons gesondheid en entoesiasme vir die werk van die Here. Daar is nog so baie om te doen.
  • Bid dat die bekeerlinge van 2013 sal aanhou groei in hulle nuwe verhouding met die Here. Dat Hy dit wat Hy in hulle begin het, sal voltooi.
  • Bid asseblief vir fondse. Dat die Here mense se hande sal oopmaak vir sy belangrike werk. Dank die Here dat vele nog steeds onder moeilikwordende omstandighede getrou bydra.