Kliek Hier om die nuusbrief in .pdf formaat af te laai!
Liewe Familie en Vriende
Teen die einde van die jaar staan onder in my dagboek “Courage doesn’t always roar. Sometimes courage is the little voice at the end of the day that says: I’ll try again tomorrow”. Na ’n baie rowwe jaar bid ek vir die moed van hierdie klein stemmetjie! Maar laat ek ons stilswye deur 2013 breek …
Na ’n warrelwind 3 ½ weke van 200+ mense op ons werf van die vloede, het dinge begin terug keer na normaal in Maart. Ons kon weer fokus op die 2 groepe studente wat hier was vir opleiding. Ons wil graag ’n groot DANKIE sê aan almal wat opgeoffer het en hand bygesit het om ons te help om die menigte te versorg. Ons kan met oortuiging na die tyd sê: Ook hierin is ons geseën!
Die Evangelie staan en val in die sterkte van ons verhoudinge. Hierdie jaar het besondere uitdagings gestel aan ons werksverhoudinge. Een van die belangsrikste lesse geleer is dat God se Koninkryk en Sy eer belangriker is as ons goeie verhoudinge. Wanneer ons meer vir mense begin omgee as God se eer, val die goeie verhoudinge wat ons probeer handhaaf ook uitmekaar. Hierdie nuwe jaar se groot uitdaging gaan wees om weer nuut mekaar en die studente op te bou rondom God se eer.
Ons sending uitreik na die Noorde van Mosambiek met ons studente was weereens ’n groot seën vir ons en ons glo ook vir die Makuas waar ons gaan leef en werk het. Ons is herinner daaraan dat wat ons glo gebou word deur stories – stories uit die Bybel, persoonlike getuienisse en ervaring wat saamwerk om geloof te bou in God vir wie niks onmoontlik is nie. Ons bly bid vir die kerk daar en die werk wat op Muapula gedoen word. Frits & Nickey van der Merwe gee leiding daar.
Terug by die huis kon ons met die hulp van ywerige helpers ’n nuwe badkamerblok vir dames bou in ’n rekordtyd. Net 3 weke van fondasies grawe tot dak opsit! Die Here het ook baie spesiaal voorsien deur verskillende mense en groepe in ’n warmwatersisteem, ’n sonkrag-ligsisteem en al die binnegoed van die badkamer. Baie dankie aan almal wat kom swoeg en sweet het om dit ’n werklikheid te maak!
Hierna was ons weg om vir Carol se familie te gaan kuier. Twee dae na ons aankoms is haar pa egter oorlede. Ons is dankbaar vir ’n lewe oor wie soveel getuig het by sy onthou-diens: Hierdie was ’n man van integriteit. Ons is ook oneindig dankbaar dat ons daar kon wees. Die Here se planne is altyd perfek!
Die laasste stuk van die jaar het, behalwe klasse, in seminare ingegaan. Pieter Kriel het ’n baie spesiale dissipelskap seminaar kom aanbied vir ons oud-studente wat tot groot seën was. Almal is vernuwe en begeesterd hier weg om hulle werk voort te sit.
Ek kon ook ’n week saam met medewerkers in die kerk van een van ons oud-studente gaan werk. Vrugbare en baie lewendige gesprekke is elke aand tot diep in die nag gevoer. Die foto gee ’n prentjie van die geestelike situasie in die gebied: ’n klein ligkolletjie in ’n see van donkerte. Ons bly bid vir Mahelane en die Sioniste kerk daar: dat daar ook vir hulle verlossing sal kom.
Die jaar eindig met ons 3 jaar groep studente wat klaarmaak met hulle studies. Ons gaan baie hard moet nuut besin oor ons manier van werk. Saam met die voordeel van mense onttrek uit hulle samelewing uit vir opleiding kom die nadeel van verwydering en “kunsmatigheid”. ’n Opsie waarvan ek baie hou is afwisselende tye by die skool en by die huis sodat, nadat iets geleer is, dit met ander tuis gedeel kan word. Meer mense kan op hierdie manier saamgeneem word in die leerproses en kan dit konkreet en prakties bly. Bid saam met ons dat ons duidelike leiding sal kry oor hoe om meer effektief te werk.
Ons eindig die jaar ook met afskeid neem van Jonas, een van ons onderwysers. Sy huissituasie het dit onmoontlik gemaak vir hom om voort te gaan met die werk. Bly bid vir sy herstel in Koninkryksdiens. Dit bring ons voor ’n nuwe klomp uitdagings in hierdie nuwe jaar. Ons het ons enigste vertaler en rekenaar vaardige persoon nou verloor. Dit laat ons ook met slegs een ander plaaslike persoon wat kan bestuur. Bid asb. saam met ons dat die Here sal voorsien in die regte persoon of persone om uit te help waar nodig. Calvin se huissituasie het ook baie gebed nodig.
Mag 2014 vir julle almal ’n jaar van verfrissing wees – ’n genadejaar van die Here af wat ons oë weer sal optel om Hom aan die werk te sien in ons elke dag se geskarrel.
Seënwense
Willem & Carol Nel