Die Wonderboom Seniors Aksie het ‘n geseënde tweede helfte van 2012 beleef. Vanaf Augustus tot November is gereelde maandelikse byeenkomste gehou. By hierdie geleenthede is ‘n hond uit ‘n bos gekuier terwyl vermaak en lekker eet ook nie agterweë gelaat is nie.
Ongelukkig is ons lede ook nie die hartseer van geliefdes wat te sterwe kom gespaar nie. In sodanige gevalle en ook in siekte poog die Aksie om sy lede by te staan.
Op 21 November 2012 het die Aksie sy aktiwiteite van die jaar afgesluit. Ons het die pragtige sang van Marena Steyn en Lizane van Wyk van hul groepie HARMONET terdeë geniet.
Omdat ons lede ook omgee vir ander is deur die loop van die jaar breiwerk soos bedsokkies asook kontant ingesamel . Die oue-tehuis, Huis Hermon, was die begunstigde vir die jaar. By ons afsluitingsbyeenkoms het Matrone Maretha Benade ons lede kom bedank en ‘n voorbeeld van die broodnodige borslappe wat aangekoop is, kom demonstreer.
Dit was ook ‘n wonderlike voorreg om ons oudste lid, Lida Booyens, met ‘n blomplant te verras. Sy sal, DV, op 30 Januarie 2013 die merkwaardige ouderdom van 99 bereik.
Ons vertrou op God dat Hy ons ook in 2013 in staat sal stel om ‘n liefdesgemeenskap vir ons seniors te help skep.
Sit in foto's van gallery