Maartmaand het so vinnig verbygevlieg! Die groot #Imagine-fees wat ons so help reël het, was die 21ste tot 23ste Maart. Dit was ‘n belewenis! Ons het vreeslik hard gewerk, en ek het baie interessante mense ontmoet. Tieners wat deur baie moeilike situasies gegaan het en party wat vir ander redes na die fees toe gegaan het en regtig aangeraak was deur wat gebeur het. Dit was amazing om 4000 tieners bymekaar te sien wat Praise en Worship! Dit is ‘n beweging wat hopelik nog baie vir ons land gaan beteken.
Ons het begin betrokke raak by organisasies en plekke waar ons deur die jaar gaan help soos Kruisweg in die stad. Dis ‘n plek waar ons vir die haweloses kos gee in die aande. Ons gaan so eenkeer ‘n week, maar die plek is Maandae, Dinsdae Donderdae en Vrydae oop. Daar was laas so 80 haweloses. Hulle gee ook berading vir die mense wat daar opdaag as hulle wil praat. Meeste van daardie mense het een of ander verslawing, van alkohol of dwelms tot iets simpels soos trots.
Ons was dan ook by plakkerskampe waar ons gaan uithelp het (in Olievenhout- Bosch). Ons het met die kinders gaan speel, hulle soek net liefde; hulle wil net jou handjie vashou of selfs net aan jou raak. Hulle wil net ‘n bietjie aandag hê. Ons gaan ook werk in die groentetuin van die ouetehuise in die plakkerskamp.
Ons gaan ook Saterdae betrokke raak by ‘n ouetehuis om bietjie die ouer mense se stories te hoor en ‘n band met hulle te vorm.
Ons doen ‘n groot verskeidenheid van goed, leer van kantoorwerk, mense, ‘events’ reël, maar ook interessante goed soos hoe om T-hemde te print. Ons was toe Johannesburg toe na die organisasie “Lets go Jozy”. Daar het ons geleer hoe om ‘screen printing’ te doen. Ons het Ritme-hemde geprint en later ook #Imagine-hemde.
Ons is ook Bloemfontein toe om ‘n kamp aan te bied vir Grey College en Oranje se meisies. Daar was 280 kinders en nog personeel. Dit was ‘n vreeslike lekker kamp en ons het geleer hoe om met tieners te werk in verband met ysbrekers en hoe om by hulle koppe uit te kom. Ons moes ietsie aanbied vir die meisies en dit het vir ons almal baie beteken. Dit was ‘n wonderlike geleentheid om so ‘n groot kamp te kon help aanbied.
Ons was ook ‘n week op ‘n kamp vir fasiliteringsopleiding, om te leer hoe om ‘n kamp aan te bied, ens. Ons het meer geleer uit ervaring as enige iets anders. Ons is die eerste dag bekend gestel aan al die verskillende bane op die kamp soos die “motivational course” en die 4 belangrike reëls vir enige kamp/byeenkoms geleer: Ttoesig, beheer, veiligheid en pret. Die volgende dag het die kinders gekom, 120 gr. 5’s van Cornville Hill. Ons moes hulle in Engels fasiliteer. Dit was vreeslik lekker om soos ‘n groter sussie vir daardie kinders te kon wees.
Verder help ons orals uit waar ons kan. Ons help nou en dan vir Mari (Wassi) ons huismoeder op ‘n Saterdag om Avo’s (van hazyview) te verkoop by die Boeremark.
Ons leer regtig baie verskillende bekwaamhede (‘skills’). Dit gaan goed, maar ‘n mens raak bietjie moeg vir self skoonmaak en kos maak. Dit is seker maar deel van grootword! Bid asseblief vir ons studente se samewerking en begrip vir mekaar en die groter prentjie. Almal is verskillende grootgemaak en het verskillende persoonlikhede en ervarings. Dit raak soms moeilik om in dieselfde huis te bly. Maar dit is alles deel van die proses om te leer hoe om met verskillende mense te werk.
Baie dankie vir julle ondersteuning en gebede!
Groete in Jesus se Naam
Elané Steyn
Ns. Skakel my gerus indien jy enige opmerking of navrae het. My selnr is 081 325 9554 en my epos elanetjiesteyn@gmail.com.