Donderdag 24 Mei 2012 was vir die Wonderboom Seniors Aksie 'n dag van eerstes. Nie minder nie as 83 seniors het kom luister na die aanbieding van die program "Solus sewe" wat Heinrich Marnitz en James Kemp bygestaan deur tegnici Emile en Riaan van Radio Pretoria, direk van die byeenkoms in die kerksaal, uitgesaai het. Dit was ook vir Radio Pretoria 'n eerste omdat dit die eerste buite-uitsending van die tipe program was. Vir die meeste seniors was dit die eerste keer dat hulle so 'n uitsending beleef het.
James Kemp en Heinrich Marnitz het almal lekker laat lag oor staaltjies uit hul loopbane voordat daar stiptelik 12:00 direk op die lug gegaan was vir die gewilde program van Heinrich Marnitz. Vir die seniors was dit heerlik om na sewe goue gunstelinge te luister. Almal het daarna saam 'n ligte middagete geniet.
Die Wonderboom Seniors Aksie is dankbaar dat Radio Pretoria hulle op so 'n wyse getrakteer het en het groot waardering vir Heinrich en sy span wat dit so ontspanne gemaak en ons ook later die dag lof oor die lug toegeswaai het.
In elkeen van hierdie dinge sien ons die seeninge uit die hand van ons getroue Hemelse Vader en ons bring Hom eer daarvoor.
Seniors geniet die aanbieding
Seniors kuier saam
Heinrich Marnitz aan die woord
Baby du Plessis waag om uit te saai.
Span in aksie