Liewe Gemeente

Dit is met groot opgewondenheid dat ons skryf dat die tyd om die Evangelie met die Yao te deel, aangebreek het!! Ons plan was om in Junie te begin, maar agv laat reëns was die mense in ons dorp steeds besig om hul mielies en ander oeste terug te dra dorp toe. Alfred en 6 manne het wel begin met die vertaling van die Bybellesse wat hy gaan gebruik en vorder goed.

Ons vra dat julle asb vir hierdie 6 manne sal bid. Hulle sal die eerstes wees wat die Evangelie hoor – nou reeds hoor soos hul les vir les vertaal!!

 

2.jpg1.jpg

 

  • Fernando
  • Noite
  • Stevão
  • Mário
  • Kadaangu
  • Chaibo(nie op die foto nie)

Die mense is baie oop en ook opgewonde oor die lesse wat eersdaags gaan begin. Ons glo dit is regtig die Here se tydberekening! Alfred het Genesis 1-9 in Yao uitgedruk en verkoop dit vir Mts10 (omtrent R3), maar aanvaar ook betaling in die vorm van patats, pampoen of mielies! J Dié wat kan lees sit in hul erf met ’n groepie mense om hul wat luister na die verhale! God se Woord bring nie net Lewe nie maar ís ook Lewend!!

DV, beplan ons om 19 Augustus te begin met die Bybellesse!! Ons het besluit om dit by die skool te hou aangesien dit mooi in die middel van die dorp is en op neutrale grond.

Alhoewel ons dorp redelik klein is, is daar twee hoofmanne wat ongelukkig nie om dieselfde vuur sit nie. Ons gebed is dat hulle wel altwee die lesse sal kom bywoon en nie dit moeilik sal maak vir mekaar of die dorp nie. Die hoofmanne is Divaagu en Masajidi.

As gesin het ons ’n effe rowwe tyd agter die rug – Stefan het sy voet in Mei gebreek, ek het malaria gehad in Junie en tans sukkel Christiaan en Stefan met ’n erge griep! Stefan het ook sy pinkie gekraak in ’n Bos Tennis toernooi!! Maar deur dit als weet ons die Here is met ons en gee ons krag vir elke dag. As ons een les van die jaar kan uitlig, sal dit wees dat ons werklik kan sê dat Hy wat in ons is, groter is as hy wat teen ons is!! Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie en hier waar ons in die duiwel se grondgebied in waag is die vyand nie gelukkig nie! Bid asb vir ons as gesin – vir ’n sterk geloof en vaste vertroue in ons Vader en in Sy groot mag.

 

 

3.jpg5.jpg4.jpg

Spanpoging om die gips af te kry! Tydens my malaria moes die kinders en Alfred inspring om kos te maak!! Hulle het heel goed gedoen en selfs ’n verjaarsdagkoek gebak!!

7.jpg6.jpg

Elke dag kuier Alfred in die dorp by die mense om hulle in te lig oor die lesse wat gaan begin.  Dit is ’n wonderlike manier om verhoudings verder te verdiep.  Die Yao is nie taak gedrewe nie en om rustig by hulle te sit en kuier of die moeite te doen om na hul huise te stap vir ’n kort geselsie is baie belangrik.  Verhoudings tel baie meer as alles anders wat jy al vandag gedoen het!!  Soms moeilik vir ons as Westerlinge, maar tog so belangrik om by mense uit te kom.

  • Bid asb saam vir die Yao en vir ons!
  • Dat die Here hul harte ontvanklik sal maak vir Sy woord.
  • Dat die Here ons sal gebruik hier in ons dorp as Sy getuies.
  • Vir Alfred om ChiYao goed te kan praat, verstaan en die Bybellesse duidelik te kan aanbied!  Die Here is die Een wat red, maar bid dat Hy ons sal help om ons beste vir Hom te gee!
  • Dat God ons sal gesond hou en beskerm.

Baie dankie vir julle gebede, omgee en liefde!

Alfred, Belinda, Christiaan, Bernard en Stefan

8.jpg