SOLA  SCRIPTURA  BYBELKOLLEGES
TERUGVOERING UITREIK  NA MOSAMBIEK  MALAWI  EN  TANZANIË

16 Augustus  2014

Liewe Gebedsvriende
Francois Swart het met tussenposes per sms of telefoon laat weet hoe hy en Ds Peet vorder.  Sodra hy tuis is, sal hy sekerlik meer volledig verslag doen.   Dankie dat u volhardend intree.  Uit sy terugvoering is dit duidelik dat die Here getrou is om te beskerm en voorsien.
Ds Peet en Francois is Vrydag   8 Augustus uit Catandica met swaargelaaide bakkie en sleepwa  (meer as 3 ton  mielies, sinkplate en voorraad.)   Hulle was  9de in Lilongwe   waar hulle mense en vrag opgelaai het en kon slegs baie stadig verder ry.  Sondag die 10de  het hulle baie moeg om 4:20  die oggend by die Mzuzu-kampus stilgehou,  nadat hulle  960 km  in 24 uur afgelê het..   Maandag die 11de het hulle na Tanzanië vertrek.  Dank die Here dat hulle veilig daar aangekom het.  Francois sê  die grond waar die kollege gebou gaan word,  is pragtig geleë op ‘n hoogte met ‘n lieflike uitsig.

CATANDICA
Intussen het die Hoopstad-span binne ‘n baie kort tydjie baie uitgerig by die Mosambiek-kampus.  Die watertenk is opgerig en waterpype aangelê, krane is ingesit en deure is gehang.  Vier blokke van die vloer binne die staalstruktuur is gegooi.  Die badkamer is ook vergroot.
Die twee dames wat saam is, het uitstekende werk gedoen.  Miggie Wolfaardt is ‘n bedrewe skrynwerker;  sy het rakke en werkoppervlaktes in die kombuis en spens ingerig en ‘n kas in die slaapkamer ingebou.  Hulle het gordyne wat Isabel Wolfaardt geskenk het, opgehang.  Ds Peet se huis is nou sommer  “spiekeries”.
Reneé Olivier het baie wol (ook deur Isabel voorsien) saamgebring en die vroue daar leer hekel.
Die Hoopstadspan het Dinsdag 12de  veilig tuisgekom.

GEBEDSPUNTE.

  • Dank onse troue God en Hemelvader vir Sy beskermende hand oor almal en vir alles wat Hy voorsien het om die uitreik moontlik te maak.  Dank Hom ook vir die gewillige en vaardige hande en vrygewige harte van die wat gegee en die wat gewerk het.  Bid dat die Here hulle ryklik sal beloon.  (Gal 6:9)
  • Bid dat Ds Peet en Francois alles wat hulle nog moet doen, voorspoedig sal afhandel en vir guns by die owerhede.  Tree in vir wysheid, gesondheid en veiligheid vir die verdere werk en terugreis.

SPESIALE  GEBEDSVERSOEK  VIR   DIE KOLLEGE  IN  MALAWI

Ds Peet het gevra dat ons ernstig moet bid dat die Here oorvloedig bykomende fondse sal voorsien vir hierdie kampus.   Daar moet maandeliks vir 72  studente voorsien word.  Die lopende uitgawes aan salarisse, voedsel, medisyne, skryfbehoeftes, brandstof en vele meer beloop sowat R30 000 per maand.  Die huidige inkomste kan nie alles dek nie.  (Fil 4:19).

Seenwense
Namens Ds Peet, Heila en die uitreikspan

Bankbesonderhede vir  Malawi:
Naam van Rekening: Sola Scriptura Foundation.
ABSA Tjekrekening No: 4078 426 111 Algemene Takkode: 632005