Met groot genade uit die hand van ons hemelse Vader kon die Wonderboom Seniors Aksie hulle bedrywighede vir 2012 op 18 Januarie 2012 afskop met 'n genotvolle oggend van samesyn en lekker gesels.

Ons was gelukkig om Phillip van Rensburg, die eienaar van Ortopediese Dienste in Wonderboom, te kry om met ons oor die versorging van voete te kom praat. Dis 'n onderwerp waarmee seker 90% van senior burgers kan identifiseer, want wie van hulle weet nie van seer voete en ongemaklike skoene nie. Almal kon deel in die goeie raad wat hy gegee het.

Wie sê ons seniors kan nie Valentynsdag in die maand van die liefde vier nie? So gesê, so gemaak. Op Woensdag 15 Februarie 2012 het ons lede 'n heerlike oggend van sang en musiek deur ds Nelius en Marena Steyn saam met Carl Botha in die gees van die maand beleef. Hierdie Valentynsdagkonsert met die tema "Daar is niks soos ware liefde" was 'n reuse sukses. Vir almal was dit 'n wonderlike en nostalgiese belewenis!

Ons is innig dankbaar teenoor almal uit ons gemeente en gemeenskap wat bereid is om hulle tyd en talente beskikbaar te stel om ons seniors te vermaak en in te lig.

Veral bemoedigend was dat in Januarie en Februarie daar 'n uitstekende opkoms was - op 15 Februarie het 59 persone bygewoon. Ons kan maar net vertrou dat die res van 2012 ook ewe suksesvol sal wees omdat die Seniors Aksie graag 'n geleentheid vir sosiale interaksie vir ons seniors wil voorsien.

Besonderhede van die datums van ons byeenkomste verskyn in die gemeente-program.