Ons het bietjie vakansie gehad van die 18de April tot die 5de Mei. Ek’t lekker gerus maar het in my vakansie saam met NG Skuilkrans kerk op ’n uitreik Kaap toe gegaan. Dit was om te leer van kruis-kultureel. Ons het met die kultuur en mense daar gemeng en saam met hulle gebly. Dit was ook geskiedkundig, so ons was bietjie Robin-eiland toe en na die Kasteel. Dit was ’n wonderlike ervaring, maar ek was so uitgeput. Toe ek terug gekom het van vakansie af, het ons sommer vinnig aan die werk gespring.
Ons het vir ’n week Johannesburg toe gegaan om geestelike groei aan te bied vir die kinders. Dit was wonderlik om met hulle elke aand te werk, ons moes die hele program aanbied so ons het “gepreek” en lekker ysbrekers met hulle gedoen. Dit vat baie energie, maar is baie bevredigend. Ons was opgedeel en het by mense gebly in Krugersdorp. Die mense was vreeslik gasvry en vriendelik.
Daarna het ons Rustenburg toe gegaan om vir ’n week Pinkster aan te bied vir die tieners van die Moedergemeente. Dit was ’n groter uitdaging as Johannesburg. Ons moes kreatiewe ideas kry waarna tieners sal luister. Ons mentors het baie min gesê van die reëlings, ens. Hulle wou gehad het ons moet verantwoordelikheid geneem het vir die hele week. My verantwoordelikheid was die Aandprogram. Ek moes seker maak alles verloop vlot en almal weet wat om te doen. Ek moes die program skryf. Aan die begin was dit nogal moeilik, maar ek het baie geleer daaruit en sal dit volgende keer 10 keer makliker doen.
In Rustenburg het ons die oggende by Hoërskool Rustenburg spandeer. Ek het een oggend ge-open vir die Gr. 9’s ( Elkeen van ons het ’n graadgroep gehad). Ons het pouses saam die kinders gekuier en het klas geloop en bietjie gekyk wat hulle doen. Daar was 2 onderwysers wat hulle storie vir my vertel het en dit het my nogal gehelp met beroepsleiding en keuses wat ek gaan moet maak. Dit gaan baie swaar in Rustenburg met die myne. Ons het help sop maak en kospakkies pak vir mense in nood, ons het ook help brode sorteer. Ons het ge-open by Grenswag en Hemelvaart saam hulle gevier.
Ons het die Woensdagaand saam hulle na die dames van die nag uitgereik. Ek dink dis baie gevaarliker daar as hier by ons, want die omgewing behoort aan Nigeriërs en hulle hou jou dop. Hulle “pimps” sal jou vinnig kom uithaal as hulle sien jy soek moeilikheid. Dieselfde kar ry omtrent 3 keer verby jou om jou dop te hou. Daar gebeur vreeslike misdaad. Dit was interessant om te sien en om vir daardie meisies te kon bid. Ons was vreeslik moeg na daardie week.
Ons het gedurende die tyd ’n “Night Festival” gereël om fondse in te samel vir ons uitreik na Italië toe. Ons het self met die idée gekom en moes alles reël en beplan. Die fees was die 7de Junie. Dit was ’n sukses vir al vir ’n 1ste keer. Daar was stalletjies, volleyball, en ’n Karaoke-kompetisie. Daar was ook ’n lekker ‘bonfire’. Daar was minder mense as wat ons sou wou gehad het, maar dit was in eksamentyd en dit was Rugby, ens. Ons het gelukkig ’n wins gemaak en baie geleer van hoe om ’n ‘event’ te reël. Ons is nog steeds uitgeput na daardie aand. Ons is verder besig om nog fondsinsamelings te hou, ons het Sondag pannekoek verkoop en dink nog aan ander idees. In tussentyd is ons besig met beroepsleiding. Wat wil ons gaan ‘swot’ ens. Ons het vir 3 dae ook na verskillende Laerskole toe gegaan saam met die CMR vir kinderbeskerming en om bietjie saam die kinders gaan sing en dans.
Die studente:
Ons gaan DV die 27ste Julie Italië toe so as julle vir iets wil bid kan julle gerus vir ons fondse en veiligheid daardie kant bid. Ek kan nie glo die jaar is al in die helfte nie; dit gaan so vinnig verby...
Groete Elané